Hier is die Bokke!

Eers was dit die Britse en Ierse Leeus en toe is dit Suid-Afrika se eie Springbokke wat voor ’n groot wedstryd in Hermanus kom oefen.


Eers was dit die Britse en Ierse Leeus en toe is dit Suid-Afrika se eie Springbokke wat voor ’n groot wedstryd in Hermanus kom oefen.

Die gebied rondom Hoërskool Hermanus was verlede week in rep en roer toe talle Bok-ondersteuners opgedaag het om die manne in groen en goud in lewende lywe te sien. Die opwinding was groot toe die spelers op pad terug na hul busse vir aanhangers handtekeninge uitgedeel en saam met hulle vir foto’s poseer het.

Op dag twee van die oefenkamp het aanhangers ook die geleentheid gehad om tot in die skoolterrein te gaan om hul rugbyhelde te ontmoet.

Mike Smuts, Hoërskool Hermanus se hoof, sê dit was ’n groot voorreg vir die skool om die Springbokke vir drie dae op hul rugbyveld te hê.

“Mense soos Akeem kon hul helde in lewende lywe ontmoet, na hulle kyk en dink, ‘as hy dit kan doen, kan ek ook’.

“Dit was ook great blootstelling vir die skool. Hermanus is nie noodwendig bekend vir sy skole en geriewe nie, maar nou kan mense sien ons skool is ’n goeie opsie vir hul kinders en dat ons goeie fasiliteite het. Selfs die Leeus het voorheen gedink ons skool se veld is ’n goeie opsie vir hul oefenkamp. Ek dink meer spanne sal nou dalk in die toekoms van ons fasiliteite gebruik wil maak,” het Smuts bygevoeg.

Almal was egter nie ewe opgewonde oor die Springbokke en al die fanfare rondom hul teenwoordigheid in die area nie.

Gys Boonzaaier, ’n oudbrigadier in die polisie, bevraagteken waarom “sewe polisievoertuie en sewe van wetstoepassing” die twee busse waarin die Springbokke gereis het, moes begelei.

“Hoe regverdig hulle (die owerhede) dit? Daar was geen bedreiging op hulle (die rugbyspan se) lewens nie. Hoekom moes die span met loeiende sirenes begelei word en paaie afgesper word? Dis ’n mors van mannekrag en geld. Ons gaan gebuk onder ’n vlaag misdaad. Hoekom geniet misdaad en stropery nie dieselfde aandag nie?” was Boonzaaier se mening.

Volgens die oudpolisieman sou dit beter gewees het vir die Bok-span om ’n private veiligheidsmaatskappy te huur om na hul veiligheid om te sien.

Die meerderheid was egter opgewonde oor die nasionale rugbyspan wat by Arabella tuisgegaan en by Hoërskool Hermanus se sportterrein geoefen het.

Inwoners het die hoop uitgespreek dat die manne in groen en goud binnekort weer die omgewing sal kies om te kom oefen.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.