Dit was ’n groot eer vir George Coetzee van Caledon toe hy onlangs as die kommissaris van klein eise vir die Hermanus-gebied ingesweer is.
“Ek is natuurlik baie opgewonde oor my aanstelling en sien daarna uit om saam met die ander voorsittende beamptes om te sien na die spoedige aanhoor en afhandeling van alle siviele aangeleenthede wat binne die jurisdiksie van die hof vir klein eise val,” het Coetzee gesê.
Volgens hom beloop die monetêre jurisdiksie van hierdie hof tans R20 000 en die hof vir klein eise wil ’n vinniger en goedkoper alternatief tot tradisionele litigasie in ander howe daarstel.
“Lede van die publiek word aangemoedig om met die klerk van die hof kontak te maak vir verdere bystand en raad as hulle dalk ’n aksie in hierdie hof wil instel,” het hy gesê.