Hope vet pret op Jeugdag

Kinders wat opgewonde lag en raas, was die hoogtepunt van die Hawston Eco Warriors en TS Birkenhead-kadette se Jeugdagvieringe.


Kinders wat opgewonde lag en raas, was die hoogtepunt van die Hawston Eco Warriors en TS Birkenhead-kadette se Jeugdagvieringe.

Die verheugde jeug het opgewonde van een aktiwiteit na die ander gehardloop. Daar was meer as genoeg om die kinders besig te hou en te laat skree van plesier. Hulle kon kies en keur tussen balskop, sakresies, hoelahoep, touspring, toutrek, kermskiet, op die springkasteel spring en op die glybaan in die skuim baljaar. Die hoogtepunt vir talle was die colour run.

Die Overstrand-brandweer, onder leiding van Ibriam Isaacs, die Hermanus-stasiebevelvoerder, het groot opwinding opgelewer toe hulle saam met die kinders aan die touspring, toutrek en ander aktiwiteite deelgeneem het.

Die dag se verrigtinge het met ’n optog deur die dorp se strate begin om bewusmaking oor die gevare van dwelm- en alkoholgebruik te skep. Dié optog is gereël deur Hawston se Skrik vir Niks-rugbyspan, wat ook daarna heerlike sop aan al die deelnemers uitgedeel het.

Lede van Hawston se buurtwag het ook aan die optog, wat deur die kadette gelei is, deelgeneem.

Noel Dreyer van die Eco Warriors en TS Birkenhead-kadette sê die hoofdoel van die dag was sodat die kinders heilsame pret in ’n veilige omgewing onder die wakende oog van verantwoordelike volwassenes kon hê.

“Ons wil meer kinders lok om by die Eco Warriors aan te sluit deur hulle te wys hoeveel pret ons het. Die Eco Warriors-program word deur Global Initiative se Resilience Fund gefinansier.

“Ons bied met die hulp van die GI Resilience Fund se finansiering leierskap-opleiding en ander aktiwiteite aan om vir die jeug ’n veilige hawe te skep waar hulle uit hul omstandighede kan vlug en belangrike lewensvaardig­hede kan leer. Die kinders word ook meer geleer oor omgewingsbewaring, en ons het gereeld vet pret,” aldus Dreyer.

Die Eco Warriors gaan gereeld op leersame kampe, doen swem- en noodhulpopleiding, bied leierskap-programme aan en kry gereeld besoeke van motiveringsprekers. Hulle ondergaan ook basiese brandbestryding-opleiding.

Die Eco Warriors nooi jonger kinders van Hawston om op 29 Junie by hulle aan te sluit vir ’n boomplantdag by die Hoek van die Berg-reservaat. Enigeen wat wil aansluit, kan Noel Dreyer by 073 161 8347 bel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.