Hermanus Times het al voorheen berig oor die jong visserman van die dorp wat lewe vir visvang (“Dié grote het nie weggekom nie”, Hermanus Times 11 Mei) en nou het Boland-varswaterhengel ook vir Aiden Ferreira vir sy harde werk langs die viswater vereer.

Nie net het Aiden volle erekleure by die Laerskool Hermanus gekry nie, maar hy het ook ’n spesiale toekenning van Boland-varswaterhen­gel ontvang.

Volgens ’n skrywe van Boland-varswaterhengel word daar by tye van ’n hengelaar verwag om in onmenslike omstandighede te hengel en Aiden het bewys dat hy nie terugstaan of oppak as dinge langs die hengelwaters moeilik raak nie.

“Uithouvermoë in hierdie sport is van kardinale belang en Boland-varswaterhengel het hom vir die WP-proewe benoem en niemand was verbaas toe hy vir die WP- o.13A-span gekies is nie. Boland-varswaterhengel­klub is ook vir die negende agtereenvolgende jaar as die topklub in die Westelike Provinsie aangewys en ons sien daarna uit om vir Aiden deel van die 2023-Chairman-ligaspan te maak waar juniors meeding en groei as hengelaars. Aiden maak Boland-varswaterhengelklub ongelooflik trots en ons hou hom beslis dop,” het Marie Uys, sekretaresse van Boland-vars­waterhengelklub gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.