Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) is die menslike papilloma-virus (HPV) die hoofoorsaak van servikale kanker (meer as 95%). Dit is dus belangrik dat soveel moontlik meisies die HPV-inenting ontvang aangesien dit hul kanse om later in hul lewe servikale kanker te ontwikkel, verminder.
Servikale kanker, die hoofoorsaak van kanker onder vroue tussen die ouderdom van 35 en 44, is ’n voorkombare siekte. Inenting teen die menslike papillomavirus (HPV) is ’n doeltreffende en bekostigbare manier om dié soort kanker te voorkom. Hierdie inenting word in Februarie en Maart by openbare en spesiale skole voorsien aan alle meisies in graad 5 bo die ouderdom van nege jaar. Wêreld-kankerdag word hierdie maand gevier en herinner ons daaraan hoe belangrik en noodsaaklik dit is om voorkomingsveldtogte te steun om mense se lewens te red. Ouers en versorgers kan ’n noodsaaklike rol speel deur die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement se HPV-inentingsveldtog te ondersteun. Byron la Hoe, kommunikasiebeampte van die provinsiale gesondheidsdepartement, sê dit belangrik om te onthou dat die vorms wat ouers moet teken om toestemming te verleen slegs vir die HPV-inenting is, en nie vir die Covid-19-inentings nie wat heeltemal van die HPV-inenting verskil.
“Ons neem in ag dat sommige ouers huiwerig is om hul kinders te laat inent. Soos met alle inentings is daar kanse dat sommige meisies kneusing of rooiheid mag ervaar waar die inenting toegedien is. In die meeste gevalle verdwyn hierdie newe-effekte binne ’n paar dae,” verduidelik La Hoe.
Weens die Covid-19-pandemie was daar in 2021 ’n afname in inentings oor die wêreld en provinsie heen. Omdat leerders op ’n rotasiebasis skool bygewoon het, was dit vir verpleegsters moeilik om almal wat vir die inenting kwalifiseer, te bereik. Waninligting en verskeie ander redes het verder daartoe bygedra dat ouers en versorgers nie toestemming vir die HPV-inenting wou gee nie, veral in die tyd toe kinders 12 jaar en ouer vir die Covid-19-inenting in aanmerking gekom het.
“Aangesien ons slegs HPV-inentings op skoolpersele mag toedien, sal ons verpleegsters hard werk om goeie verhoudings met skoolhoofde en onderwysers te verseker sodat ons hierdie jaar soveel moontlik skoolmeisies kan bereik.”
Suster Beatrice Groenewald, die Overberg-distrik se kindergesondheidskoördineerder, sê sy en haar HPV-inentingspan het verskeie maatreëls daargestel om te verseker dat soveel moontlik meisies ingeënt word.
“Met behulp van meisies in graad 5 stuur ons vir hul ouers uitgedrukte lyste van algemene vrae (FAQs) in verskillende tale tesame met die toestemmingsvorms. Dit stel hulle in staat om hulself te vergewis van al die belangrike feite (dat die HPV-inenting veilig en doeltreffend is en dat dit verskil van die Covid-19-inenting) sodat hulle ingeligte keuses kan maak. Elke kind wat ’n getekende toestemmingsvorm terugbring, sal ’n liniaal as ‘n geskenk ontvang,” sê Groenewald.
“Ons sal weer eens op die goeie verhouding tussen skole en gesondheidswerkers staatmaak. Ondersteuning vir ons HPV-inentingsveldtog sal ’n lang pad gaan om te help verseker dat ons servikale kanker elimineer. Die HPV-inenting bied hoop vir ’n wêreld sonder servikale kanker en ons bedank alle ouers en versorgers wat ons inentingsveldtog ondersteun.”