Ouers en oudleerders kan met heimwee terugdink aan die Hoërskool Grabouw wat op sy tyd ’n spogskool met die beste geriewe was. Vandag lyk die rugbyveld, wat ook deur die plaaslike rugbyklubs gebruik word, gehawend – om nie eens te praat van die tennisbane, swembad en netbalbane nie.

“Die skool was ons trots. Dit was ’n plesier om ons kinders op die atletiekbaan te ondersteun. Vandag is die veld gehawend – dit is droog, die molle neem oor en niks is oor van die onthaallokaal nie – alles soos dit onder misdaad deurloop. Selfs die spreiligte is al gesteel. Kan die skool nie die veiligheid van die veld verskerp nie?” het ’n ouer, wie se kinders daar skoolgegaan het, gevra.

Die tennisbane, wat ook eens ’n trots was, kan nie meer gebruik word nie. Gras groei daarop, die bane is nie omhein nie en die klubhuis is vervalle.

Wat mense omkrap, is geen hek by die rugbyveld nie en booswigte en selfs vee het vrye toegang tot die veld. “Die veld is deur varke en beeste wat daarop wei, beskadig. Dit is glad nie ’n goeie advertensie vir die dorp nie. Die rugbyveld word deur plaaslike rugbyklubs gebruik en spanne van oor die hele Overberg kom speel hier. Dit is ’n baie swak beeld wat van Grabouw uitgedra word,” sê ’n inwoner.

Die Boland-vrouespan het verlede jaar op dié veld teen die Sharks gespeel en die Sharks-bestuur het sy misnoeë oor die toestand van die veld uitgespreek.

Volgens inwoners van die aangrensende buurt het iemand voorverlede naweek in die saal by die rugbyveld ingebreek en kan ’n mens duidelik op die kameras sien hoe die ketel weggedra word. “Die feit dat daar geen hek of heining is nie, beteken dat boosdoeners vrye toegang deur die rugbyveld na die buurt het. In een aand was daar twee inbrake waar duidelik gesien kan word dat hulle toegang deur die rugbyveld gekry het,” het een inwoner gesê. “Daar is ook geen alarm by die saal nie, en alles is al uit die saal gesteel. Dit gaan nou na ons oorspoel.”

Nog ’n inwoner het gesê hulle begin vrees vir hul veiligheid. “Dit is die skool se plig om na die veld om te sien. Die ingang in Mimosastraat moet heeltemal gesluit word en mense moet slegs toegang deur Oudebrug kry.”

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het gesê deurlopende samesprekings is met die Theewaterskloof-munisipaliteit en die skool aan die gang oor Pineviewpark-sportterrein en die Hoërskool Grabouw se sportterrein in Mimosaweg. “Ons is besig met onderhandelinge om die twee sportterreine te ruil. Die skool is bewus van die onderhandelinge en sodra dit voltooi is, sal die Hoërskool Grabouw se sportterrein opgegradeer word,” het Bronagh Hammond, die direkteur van kommunikasie van die WKOD, gesê.

“Wat die swembad en tennisbane betref, vra die skool die Grabouw-gemeenskap of klubs, afrigters of swemskole nie die sportgeriewe wil huur of selfs borg, sodat dit opgegradeer kan word nie. Die tennisbane word deur van die onderwysers en klasse onderhou, maar ons hoop ’n tennisafrigter of klub sal die tennisbane huur sodat belangstelling onder die leerders gekweek kan word. Enigeen wat belangstel om die geriewe te gebruik, kan die skool kontak.”

Die Theewaterskloof-munisipaliteit is gekontak oor hoe die onderhandelings-proses vorder, maar geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.