Die geliefde Oom Pieter, wat die Hermanus Times elke week getrou uitgedeel het, is onlangs oorlede.
Oom Pieter, soos hy alombekend staan, het langer as 15 jaar getrou elke week die koerant – toe dit destyds nog ’n betaalde publikasie was – verkoop. “Nie eens die gure weer kon hom keer om sy geliefde koerant te versprei nie. Hy was – selfs al was hy hoe siek – getrou op sy pos,” het die redakteur van Hermanus Times, Mariëtte Strydom, gesê.
“Oom Pieter was een van daardie mense wat wanneer die lewe hom druk, hy dit terug gedruk het. Hy was altyd opgewonde en almal het hom geken,” het Gail Lukas, advertensieverteenwoordiger van Hermanus Times, gesê.
Yolande Pistilli, wat jare lank saam met Oom Pieter gewerk het, sê hy het ’n kop vir syfers gehad. “Hy was baie bekend en mense was baie lief vir hom. Met sy opgewekte stem het die mense sommer dadelik geweet hy is in die omgewing, nog voordat hulle hom sien.” Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.