H’Times en lesers reik uit na ander

Gemeenskapsbetrokkenheid is vir die Hermanus Times-personeel baie belangrik.


Gemeenskapsbetrokkenheid is vir die Hermanus Times-personeel baie belangrik.

“Ons was nog altyd by die een of ander gemeenskaps­projek betrokke,” het Mariëtte Strydom, die redakteur van Hermanus Times, gesê.

“Ons het in 2023 danksy ’n ruim skenking van Checkers skooltasse aan skole in die Overberg geskenk. Kers­partytjies is by die Nomzamo-skool in Zwelihle gehou, waar ons ook liefdesboksies aan die leerders en onderwysers uitgedeel het.

“Ons was ook betrokke by ’n matriekafskeid-projek waar ons minderbevoorregte matriekleerders met hul hare, grimering, klere en matriekafskeid-foto’s gehelp het. Maar die hoogtepunt was vir seker die uitreikaksie na die Mispah-skool in Elim waar Hermanus Times-lesers hul hande diep in die sak gesteek en die skool gehelp het.”

Van die produkte wat lesers aan die skool geskenk het, was onder meer gordyne, beddegoed, kinderklere, televisieskerms en selfs ’n klavier. “Wat vir ons wonderlik was, was die feit dat ons selfs vir al die leerders Kersgeskenke kon gee – ook danksy die lesers en adverteerders se ruimhartige skenkings,” het Strydom gesê.

Maar steeds het skenkings ingestroom en aangesien Hermanus Times oor die Overberg heen versprei is, word dit ook aan instansies in die Overberg geskenk.

Verlede Woensdag is na Badisa in Riviersonderend uitgereik. Dié organisasie sonder winsbejag in Riviersonderend sien nie net om na kinders in die omgewing nie, maar selfs bejaardes baat by hulle.

“In dié stadium het ons ’n kleuterskool waar ons daagliks na die kleuters omsien en ons projek vir die bejaardes lok ook baie belangstelling,” het Anthea Bergman van Badisa in Riviersonderend gesê.

“Ons is altyd op soek na skenkings. Finansieel gaan dit nie goed met ons inwoners nie en ons wil graag meer mense deur ons skenkings bereik.”

Strydom moedig lesers aan om skenkings – van niebederfbare kos tot ander produkte – by die kantoor af te gee. “Ons sal selfs van die skenkings by die lesers gaan haal. Ons wil deur die jaar na minderbevoorregte mense en instansies uitreik.”Projek vir sanitêre doekies

Hermanus Times het vir jare ook sanitere doekies ingesamel wat by skole uitgedeel word.

Skokkende navorsing het getoon leerders met maandstonde gaan nie skool toe nie aangesien hulle net nie die geld het om die nodige te koop nie, maar ook omdat hulle ver van winkels af woon.

“Baie leerders het nie toegang tot winkels nie en is ook te skaam om onderwysers vir die nodige hulp te vra. Ons wil graag die projek weer op dreef bring om meisies van oor die Overberg heen te help,” het Strydom gesê.

Hermanus Times nooi die gemeenskap, maatskappye en organisasies om deur die loop van die jaar skenkings van sanitêre produkte te gee.

Dit hoef nie duur produkte te wees nie. Deesdae is produkte van so min as R10 by verskeie kettingwinkels beskikbaar.

Skenkings sal eweredig in die Overberg verdeel word.

Sanitêre produkte kan by Hermanus Times se kantoor by Birkenhead Building, Hoof­straat, Hermanus, afgelewer word. Die kantoor is Maandag tot Donder­dag van 08:00 tot 16:00 en Vrydag van 08:00 tot 14:00 oop. Skakel 028 312 3717 vir navrae en nog inligting.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.