Vertel vir ons in kort waaroor gaan jou nuwe boek? Kies-jou-avontuur
2: Die gevaarlikste boek op aarde gaan oor Gretha, ’n jong tienermeisie wat
by haar pa, stiefma en ouer stiefsuster woon, terwyl haar eie ma oorsee werk.
Ná ’n onderonsie probeer Gretha haar stiefsuster se gunstelingsprokieboek
skeur, maar dan word sy en haar beste vriend, Hannes, na die koninkryk van
Fantastorië geteleporteer. Daar vertel die Towerspieël hulle dat hulle slegs
terug huis toe sal kan gaan, indien hulle vier spesiale legkaartstukke vind.
Hulle ontmoet baie sprokieskarakters, maar die meeste is glad nie dit wat
Gretha kleintyd vertel was hulle is nie. Die sprokieswêreld is ’n gevaarlike
plek en Gretha sal slegs met die hulp van die leser veilig by die einde kan
uitkom.
Vervolg dit op kies jou avontuur 1? Kies-jou-avontuur
1: Die gevaarlikste speletjie op aarde, Kies-jou-avontuur 2: Die gevaarlikste
boek op aarde (April 2021) en Kies-jou-avontuur 3: Die gevaarlikste
fliek op aarde (Junie 2021) volg nie op mekaar nie. Dit is drie losstaande
stories met verskillende karakters, maar natuurlik is al drie boeke aksiebelaai
en propvol hope avontuur, so die lesers wat die eerste boek geniet het, sal die
volgende twee beslis ook in die hande moet kry.
Waar het jy opgekom vir idees vir die nuwe boek? Van
kleins af al hou ek van sprokies en stories gegrond op sprokies. Ek het eers op
die titel van hierdie boek besluit en toe die idee gekry om sprokies in die
storie te gebruik. Ek het redelike goeie kennis van sprokies, selfs die minder
bekendes, maar ek moes steeds navorsing doen. Ek het begin deur Marita van der
Vyver se Die Volledige Sprokies van Grimm te lees, toe kyk ek die Nippon
Animation-reeks Grimm’s Fairy Tale Classics op YouTube, daarna het ek
aanlyn opgelees oor Hans Christian Andersen en Charles Perrault se sprokies, en
laaste het ek die Arabiese sprokies Duisend-en-een-nagte nagevors.
Verduidelik die skryfproses van die boek. Het jy dit in
Suid-Afrika geskryf? Ek het hierdie boek in Saoedi-Arabië gedurende die
inperking geskryf, maar die derde boek in die reeks, wat in Junie vanjaar
verskyn, het ek in Oktober en November 2020 in Suid-Afrika geskryf.
Wanneer is die boek beskikbaar? Kies-jou-avontuur
2: Die gevaarlikste boek op aarde sal van 20 April af in alle
toonaangewende boekwinkels asook aanlyn beskikbaar wees. Dit kan nou reeds
bestel word by Loot, Graffiti Boeke, Uppercase Books en enige ander boekwinkel.
Ek sien die boek het ’n klomp verskillende eindes en die
leser kan kies watter einde hy/sy wil hê. Hoe werk dit? Aan die einde van
die meeste hoofstukke moet die leser die karakters help deur ’n keuse namens
hulle te maak. Indien die leser die verkeerde keuse maak, kan die karakters
hulle dalk in vreeslike gevaar vasloop en dan een van die meer as 30 eindes van
die storie bereik. Hierdie soort boek werk soos ’n speletjies waar die speler
gereeld game over beleef, maar net weer oor kan begin. Dit beteken
entoesiastiese lesers kan hierdie boeke oor en oor lees.
Vertel van die karakters in jou nuwe boek. Wat het elkeen
van die karakters inspireer? Gretha, die hoofkarakter, is pas hoërskool toe
en terwyl haar eie ma oorsee werk, woon sy by haar pa, stiefma en stiefsuster,
Sybil. Die feit dat haar pa se nuwe vrou en Sybil baie gaaf met haar is, verwar
Gretha, want sy het in sprokies geleer dat stiefma’s en stiefsusters aaklig
is. Boonop voel dit vir Gretha asof sy haar ma in die rug steek. Haar beste
vriend, Hannes, is ’n normale tienerseun – iewers tussen kind en jongman. Hy
gee baie om vir Gretha. Die derde grootste karakter is Kabous, die kabouter wat
Gretha en Hannes in Fantastorië, die sprokieswêreld, ontmoet. Kabous is ’n regte
knorpot, maar is soms baie snaaks en Gretha kom gou nader aan hom. Die res van
die karakters is bekende sprokieskarakters, maar hulle karaktereienskappe en
persoonlikhede is glad nie wat die leser sal verwag nie. Ek wou graag
doodgewone hoofkarakters skep, maar dit was belangrik vir my om ’n dieper
kwessie ook aan te spreek, soos Gretha wat die egskeiding van haar ouers beleef
en nou stieffamilie het.
Wie is jou teikenmark in die boek? Is dit meer gemik op
die tienermark? Soos die eerste boek in die reeks, is hierdie boek ook
geskik vir lesers vanaf 9 tot 14. Ek weet egter, net soos met my Grilgrypers-reeks,
dat daar baie volwasse lesers is wat dit ook baie geniet. Dit wys jou net:
Niemand is ooit te oud vir ‘n lekker avontuur nie! Natuurlik is daar die
aanname dat seuns nie lief is vir sprokies nie, maar hierdie boek is
allesbehalwe ‘n tradisionele sprokieboek. Seuns en meisies wat hou van
spanningsverhale en naelbytaksie, sal dit verslind!
Ek hoor jy is tans in Kleinmond a.g.v. reisregulasies, is
dit lekker om weer bietjie tuis te wees? Ja, ek het in Oktober 2020 terug
Suid-Afrika toe gekom om Kersfees saam met my familie te kon vier, maar sedert
Januarie 2021 is ek basies hier vasgekeer. Gelukkig kan ek aanlyn skoolhou, so
my werk ly nie daaronder nie. Ek is egter redelik gretig om terug na
Saoedi-Arabië te kan reis, want ná 11 jaar daar, mis ek natuurlik my woonstel,
roetine en vriende. Maar op die ouderdom van 38 is dit ‘n reusevoorreg om weer
soos ‘n kind by my ouers in die huis te kan woon. Hulle bederf my vreeslik en
ek kan nie anders as om die Here elke dag te bedank vir hierdie kwaliteittyd
saam met my geliefdes nie.
As jy jong skrywers twee wenke kon gee om ‘n suksesvolle
boek te skryf, wat sou dit wees? As voltydse laerskoolonderwyser, sal my
eerste wenk altyd wees om soveel as moontlik te lees – goeie en slegte boeke,
want so leer mens waarvan jy hou en jy leer uit ander se foute. Die meeste
gepubliseerde werke dien natuurlik as ‘n model vir goeie skryfwerk. Tweedens
sal ek aspirantskrywers aanmoedig om bewus te word van perspektief in stories.
Maak jouself bekend met die verskillende soorte oogpunte waaruit stories vertel
word. Sodra jy dit verstaan en regkry om jou storie uit slegs een oogpunt te
vertel, is jy al halfpad daar om ‘n goeie skrywer genoem te kan word.
Werk jy al aan jou volgende boek, gee vir ons so bietjie
inligting oor watter boek jy beplan om volgende te skryf? Ek beplan beslis
nog ‘n Kies-jou-avontuur vir volgende jaar, maar het dit nog nie begin
skryf of met my uitgewer bespreek nie. My eerste boek vir jonger lesers in die
ouderdomsgroep 6 tot 9 verskyn wel volgende jaar by Human & Rousseau. Dan
is ek tans besig met ‘n losstaande storie vir die ouderdomsgroep 12 tot 15. Dis
‘n drama en ek hoop dit sal wel eendag as ‘n boek op winkelrakke beskikbaar
wees.