Sers. Brandon Hendricks, wat gesterf het nadat hy ’n man uit ’n brandende huis probeer red het, het vir sy familie, musiek en sy werk geleef.
Daarom was dit so gepas dat talle van sy kollegas verlede week met loeiende sirenes en flitsende ligte in ’n stoet by ’n spesiale roudiens opgedaag het waar die polisie-orkes musiek gespeel en van sy kollegas roerende huldeblyke gelewer het.
Sy broer, Mervin Hendricks, het vertel hoe hy van driejarige ouderdom af daarvan gedroom het om ’n polisieman te word en sy gemeenskap en land te dien.
Kapt. William Solomons, Hendricks se skofbevelvoerder, het huldeblyke van Hendricks se kollegas voorgelees, waarin hulle hom beskryf het as ’n goeie vriend, opregte mens wat nie doekies omgedraai het nie, ’n ware geregsdienaar en iemand wat nie geskroom het om op te tree wanneer mense die wet oortree het nie.
Kol. Mbuyiseli Mtingani, bevelvoerder van die Overberg-distrik se bedryfsbeheerkamer, het hom beskryf as ’n “soldaat wat met sy stewels aan gesterf het”.
Hendricks se vrou en sy ma was in trane nadat die landsvlag en sy foto deur Mtingani en kol. Joe Hartnick, waarnemende bevelvoerder van die Caledon-polisiekantoor, aan hulle oorhandig is.
Hartnick het bevestig dat Hendricks aan diens was toe hy Sondagoggend (29 Januarie) asemhalingsprobleme begin ervaar en hospitaal toe geneem is.
“Sers. Hendricks en nog ’n beampte het Saterdag omstreeks 22:45 reageer op ’n brand wat in ’n Wendy-huis agter in ’n erf in Rising Sun-singel in Fase 3, Botrivier, uitgebreek het. Die struktuur was gesluit en Hendricks en sy kollega het die deur probeer oopbreek om die inwoner te red, maar hulle was onsuksesvol,” het Hartnick verduidelik.
Winston Williams (40) het in die brand gesterf en ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen.
Hendricks het ná sy heldedaad nog ’n klagte bygewoon. Hy het kort daarna asemhalingsprobleme begin ervaar en is na die Caledon-hospitaal geneem.
Hendricks se vrou, Filecia, het aan Hermanus Times vertel sy het vas geslaap en nie haar foon hoor lui toe die polisie haar probeer kontak het nie.
Sy het omstreeks 05:00 wakker geword toe ’n polisiebeampte aan haar deur geklop het. “Ek het groot geskrik en was angstig toe ek Brandon nie sien nie.”
Sy het hospitaal toe gejaag om by haar eggenoot van die afgelope byna vyf jaar te wees.
“Hy het gesê hy is fine,” vertel Filecia. “Sy hart het so vinnig geklop. Toe die dokters dit toets, het hulle gesê dis 244 slae per minuut. Later was dit 270. Hy het sy bewussyn verloor en ek kon nie by hom bly terwyl hulle hom op ’n klomp masjiene gesit het nie.
“Die saal het gewemel en ek het heeltyd gehuil en gebid. As ek in die kamer gekom het, het sy hartklop bedaar, maar elke keer as ek uitgaan, het dit weer vinniger begin klop.”
Die hospitaal het gereël dat Hendricks na die Mediclinic Hermanus vervoer word, maar hy is dood voordat die ambulans kon vertrek.
“Ek het gesien hoe hy sy laaste asem uitblaas toe hulle hom in die ambulans laai. Dit het gevoel soos ure terwyl hulle gesukkel het om hom by te bring,” sê sy.
Sy dood, sê Filecia, het nog nie ingesink nie. “Ons dogtertjie, Ureech, hardloop elke keer deur toe wanneer ’n polisievoertuig hier stop, maar dan is sy hartseer as haar daddy nie uitklim nie. Saans is dit moeiliker, want sy het altyd in sy arms aan die slaap geraak. Ek moet nou ma en pa speel,” het sy bewoë gesê.
Hendricks het ongeveer 18 jaar as polisieman gewerk en was by die Caledon-polisiekantoor gestasioneer. Hy is beskryf as ’n baie goeie polisieman en speurder wat sy werk deeglik gedoen het.
Hendricks is Saterdag begrawe. Benewens Ureech wat uit sy huwelik met Filecia gebore is, laat Hendricks ook vier ander kinders – Gillian Andries, Leo van Rooyen, Abbi Hendricks en Jomaré Hendricks – agter.