‘n Bekende in Greyton en Overberg politieke
kringe, Danie du Toit, is na ‘n lang gesondheidsstryd Dinsdag 27 Desember
oorlede.
Du Toit is op 24 Maart 1960 in Caledon gebore en
het in die Lindeshof / Soetmelksvlei-omgewing grootgword.
Du Toit se politieke loopbaan het in 1991
begin toe hy as onafhanklike kandidaat die setel in Greyton met een stem gewen
het. Vanaf 1995 – 1998 was hy Greyton se burgemeester waarna hy as raadslid in
die Theewaterskloof-munisipaliteit gedien het. Na die amalgamasie van munisipaliteite
in 2006 is hy afgevaardig na die Overberg-distriksmunisipaliteit. By ODM was hy
vir ‘n vyfjaartermyn die hoofsweep van die opposisie en later koukusleier.
Vanaf 2011 het hy as speaker van die ODM gedien en vanaf 2015 – 2021 het hy die
amp as speaker by die Theewaterskloof-munisipaliteit beklee.
Du Toit is as ‘n beskeie maar passievolle mens,
wat mense wou dien en bemagtig, beskryf. Huldeblyke het ingestroom op sosiale
media. Op TWK se Facebookblad sê TWK se uitvoerende burgemeester Kallie Papier:
“Hy was ‘n ware dienaar van die mense en het met waardigheid gedien.”
TWK se onderburgemeester, John Michels, sê: “Hy was ‘n nederige,
saggeaarde persoon en tog kon hy orde in die raadsaal handhaaf en dit spreek
tot watter mate die raadslede hom gerespekteer het.”
By navraag het raadsheer Lincoln de Bruyn, ODM se
speaker, gesê:
“Dit is met hartseer en skok dat ons verneem het van Danie se afsterwe.’n Groot
seder het geval in die politieke arena. Hy was gedissiplineerd, hardwerkend en
het ‘n passie vir sy gemeenskap gehad. Sy raad, sy leiding en hy sal beslis
gemis word.”
De Bruyn noem ook dat du Toit in 2000 saam met
Chris Punt, Stephen Vashu, dr. Frank en Jean Maurice een van die stigterslede
van die DA in TWK was.
Alhoewel die titel raadsheer aan Du Toit
toegeken was, was hy in sy gemeenskap alombekend as “oom Danie”. Hy was baie
betrokke by sy gemeenskap en het groot genot daaruit geput om sportdae te reël, skenkings aan die
gemeenskap te maak en om by geleenthede soos die Roosfees, waarvan hy ‘n
stigterslid was, en basaars-potjiekos te kook. In sy vrye tyd het hy graag
gesweis, biltong gemaak en rugby gekyk.
Du Toit word oorleef deur sy vrou Carin, kinders
Francois en Danielle en kleindogter Maia, asook sy broers Stephen, Wessel,
Johan en suster Leana du Toit.
‘n Huldediens vind Dinsdag 3 Januarie om 10.00
by die NG kerk Greyton plaas.