Hanneke Vlam Laubscher se treffende skets van Deveney Nel.


Deveney Nel, die jong meisie wie se liggaam gevind is nadat sy as vermis aangemeld was, se sinnelose moord het duisende mense geraak en verskeie kunstenaars geïnspireer om op verskillende wyses aan haar hulde te bring.

Jordan Manuel, wat nes Deveney ’n graad 10-leerder aan die Hoërskool Overberg is, het ’n treffende lied getiteld “Tribute” uitgereik waarin hy rymklets oor hoe haar laaste oggend moontlik was, haar vriendelike persoonlikheid en hoe die tragedie almal wat haar geken het, getref het.

Die liedjie wat op sy Youtube-kanaal “Jordi Boy” bekendgestel is en ook op die skool se Facebook-blad gedeel was, het binne drie dae meer as 11 000 views gehad.

Sy woorde: “Die dag is ek voor lus; Min te weet dit sal die laaste van my wees” skep ’n prentjie van hoe onverwags en skokkend die nuus van haar dood was ure nadat sy noodhulpdiens by ’n opwindende sportdag by die skool gedoen het.

Hy verwoord ook almal se skok en pyn oor die 16-jarige se moord met die woorde: “Damn, ek raak so seer as ek kyk, haar hele lewe voor haar toe moes iemand dit gaan gryp.”

Die liedjie eindig met die woorde:

Die tribute is vir Deveney, ’n meisie met ’n hart en ’n smile van ’n engeltjie

’n Prinses van die Overberg

’n Deel van ons familie

Ons almal weet sy’s weg

Maar by ons sal sy altyd wees.”

Glimlag deur die trane

Deveney se glimlag word ook uitgebeeld in Hanneke “Vlam” Laubscher se potloodskets van ’n foto van Deveney wat gesirkuleer was toe sy as vermis aangemeld was.

Hanneke, ’n oud-Ovie, het die hoop uitgespreek dat dit vir Deveney se ma Lida en jonger sussie sal laat glimlag.

“As die Here iets op jou hart lê, dan doen jy dit. Toe ek van die voorval hoor, was ek baie hartseer, want jy verwag nie dat so iets by die skool sal gebeur nie. My meisiekind is in graad 9 en dit kon so maklik sy gewees het.

“Rus sag, mooiste Deveney. Toe Tannie jou geteken het, moes ek net keer dat die trane nie op die blaai val nie. As ek teken, teken ek met gevoel en baie liefde.

“Baie sterkte vir mamma en sussie en familie, almal wat lief is vir haar. Mag Jesus julle styf vashou. Vlieg hoog. Liefde Vlam.”

Die oud-Ovie het gesê dis tragies dat die moord op die skoolterrein gebeur het aangesien die skool “altyd ekstra moeite doen vir die kinders”, vir hulle omgee en hulle motiveer.

Private diens

Na aanleiding van die groot mediabelangstelling na die moord, het die Hoërskool Overberg aangekondig dat ’n spesiale troosdiens, wat slegs oop is vir die personeel, leerders en hul ouers, Vrydag 16 Augustus om 13:00 by die NG Moederkerk in Caledon gehou sal word. Die diens, het die skool gesê, sal weens die “sensitiwiteit van die saak” nie regstreeks gestroom word nie

Die skool het ook op sy Facebook-blad beklemtoon dat talle gerugte op sosiale media dat verdagtes in hegtenis geneem is, onwaar is. Die inskrywing lui verder: “In die stadium is dit nog ’n oop saak en die polisie is besig met hul ondersoek. Ons sal u op hoogte hou indien die polisie ’n verklaring uitreik.”

In die nuutste inskrywing, met die opskrif “Naamskending”, doen die skool ook ’n ernstige beroep op die gemeenskap om nie valse inligting te versprei nie en sê: “Dit word in ’n baie ernstige lig gesien. Dit meng in met die SAPD-ondersoek en dié wat hulle hieraan skuldig maak, sal vervolg word.”

You need to be Logged In to leave a comment.