Ashley October, die man wat aangekla is van die moord op sy eksvrou, sal agter tralies bly nadat sy borgtogaansoek in die Bredasdorp-streekshof misluk het.
October se onsuksesvolle formele borgtogaansoek het Dinsdag 4 Januarie plaasgevind. October sal tesame met sy medebeskuldigde, Tashwell van der Rheede, in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning op Donderdag 3 Februarie.
Albei is aangekla van die moord op October se eksvrou Charlene October wie se liggaam op 12 Julie in haar huis in Elim ontdek was.
Van der Rheede het kort ná sy inhegtenisneming in Augustus aangedui dat hy nie ’n bod vir sy vryheid sal maak nie.
Inwoners van Elim en Bredasdorp het met die mans se vorige verskyning in Desember voor die hof betoog om te eis dat borgtog nie toegestaan word nie. Altesaam 500 inwoners van Bredasdorp en 300 van Elim het ’n petisie onderteken wat eis dat October nie op borgtog vrygelaat moet word nie. Meer as 600 mense het ’n aanlyn petisie in dié verband onderteken.
October is in November in Elim in hegtenis geneem en aangekla van die moord op sy voormalige vrou. October en Van der Rheede staar aanklagte van moord, huisbraak en diefstal en roof met verswarende omstandighede in die gesig.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het bevestig dat meer sake in ’n latere stadium tot die klagstaat bygevoeg sal word en dat die saak na die Wes-Kaapse hooggeregshof oorgeplaas sal word.