Munisipale dienste in Botrivier moes verlede week opgeskort word en die N2 moes vir ’n tyd gesluit word toe betogings rakende behuising uitgebreek het.
Volgens berigte het ongeveer 100 mense Dinsdag 12 April in die vroeë oggendure opgeruk en bande aan die brand gesteek en voertuie wat op die N2 verby die dorp gereis het, met klippe bestook. Een voertuig is aan die brand gesteek. Geen beserings is egter aangemeld nie.
Die Theewaterskloof-munisipaliteit het bevestig dat toilette by die Beaumont-behuisingsprojek beskadig is. Die munisipale kantoor is ook gesluit en munisipale werknemers moes vir die dag in Caledon of Grabouw werk.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), het bevestig dat onderrig by Botrivier Primêr sowel as die vervoer van alle leerders na en van die dorp vir die dag opgeskort is.
“Slegs drie leerders was (Dinsdag) by die skool. Die WKOD het alle vervoer vir leerders na en van Botrivier op aanbeveling van Provinsiale ramp-risikobestuur vir die dag opgeskort. Geen skade aan die skool is aangemeld nie,” het sy bygevoeg.
Die burgemeester van Theewaterskloof-munisipaliteit, Kallie Papier, het in ’n verklaring bevestig klagtes van aanhitsing tot openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging is by die polisie aangemeld.
Papier het die voorval sterk veroordeel en gesê openbare geweld sal nie geduld word nie.
“Die Theewaterskloof-munisipaliteit sal nie enige onwettige dade wat tot die beskadiging van openbare infrastruktuur lei en die gemeenskap se lewens in gevaar stel, duld nie,” het hy beklemtoon.– Vervolg op bladsy 2