Van vroeg af was dit nie net sy teenstanders nie, maar ook ondersteuners wat hom raakgesien het.
Connor Mahoney, veelsydige agterspeler van Safcol-rugbyklub in Grabouw, was letterlik ’n doring in menige teenstander se vlees. Nie net kan dié speler deur die verdediging breek nie, maar hy is ook nie bang om soos in Leon Schuster se liedjie “Doring Danie van Despatch” te skop, “place” en “drop” nie.
Connor, oorspronklik van Abbotsdale, ’n klein dorpie buite Malmesbury, het sy skoolloopbaan by die Laerskool St. Michaels begin en het aan die Hoërskool Schoonspruit gematrikuleer.
Dit is daar waar hy aan rugby blootgestel is en vandag is hy dankbaar vir die opleiding wat hy op hoërskool ontvang het.
Connor het die rugbyleer geklim en ná skool vir die Blou Bulle se o.19-span uitgedraf, vir die Boland-Kavaliers gespeel en was ook by die Blitsbok-akademie betrokke. En vanjaar is hy ’n kontrak by die Griekwaland-Wes-rugbyunie (GWRU) aangebied.
Maar dis by Safcol waar hy van eenheid en respek geleer het. “Saffies is ’n baie lekker klub om voor te speel – veral as jy vir God in jou kamp plek maak. Die eenheid en respek van die span teenoor die bestuur is een van die redes waarom ons al die trofeë gewen het. Maar ek moet sê die lekkerste vir my by Safcol is die gees en liefde van ons lojale ondersteuners.”
Saffies het verlede jaar van vroeg af gewys hy is die gunstelingspan en was nie net die wenner van die Boland-Top-12 nie, maar ook die Paastoernooi en die Overberg-beker.
Volgens Connor was dit baie spesiaal om die Boland-Top-12 te wen: “Ek kan nie daai gevoel beskryf nie . . . om die supporters te sien huil en die trots in hul oë te sien, was regtig ’n riem onder my hart.”
Connor kan in enige posisie in die agterlyn speel, maar dis op heelagter waar hy uitblink.
“My gunstelingposisie sal altyd nr. 15 wees. Dit is daar waar ek meer met die bal kan hardloop en dis ook daar waar ek ruimte kan identifiseer.”
Hy kan nie wag om sy slag op die rugbyveld in Kimberley te wys nie en is baie opgewonde om sy buiging in die Curriebeker te maak.
Connor kyk op na die Springbokspeler Kurtley Arendse en sê hy het al die geleentheid gehad om teen Kurtley te speel en dit was baie spesiaal. “Wat Kurtley op ’n veld kan doen, is ongelooflik . . . daar is baie min sulke spelers.”
Die voorsitter van Safcol, Dimitri Jacobs, is Connor se rolmodel. “Dimitri gee om vir sy gemeenskap en wil graag ’n verandering in de gemeenskap bring. Vir hom gaan dit nie net oor die klub nie, maar oor die omgewing, kinders en die ondersteuners. Van al die klubs waar ek al gespeel het, moet ek sê Safcol se ondersteuners is die beste. Dit maak nie saak waar Saffies speel nie – ons ondersteuners het altyd met drie of vier busse opgedaag. Hulle sing en raas en ná die wedstryde het ons altyd foto’s saam met die ondersteuners geneem . . . dit is iets wat ek gaan mis.”