Die feit dat hy nie met ’n universiteitsvrystelling geslaag het nie, het Chestiano Louw net meer vasberade gemaak om harder te werk om sy drome te verwesenlik.
Chestiano, wat verlede jaar in matriek by Gansbaai Academia was, se doelwit is om hierdie jaar hard te werk om die vakke fisiese wetenskap en wiskunde aan Hoërskool Hermanus te herhaal en sy punte daarin te verbeter.
Sy droom is om regte te studeer en eendag ’n landdros te word.
“My visie is om ’n landdros te word en ek glo my droom sal waar word. Ek wil dit nie doen vir roem of geld nie, maar om my familie trots te maak.”
Louw het sy skoolloopbaan in 2009 in juffrou Christolene Faro se gr. R-klas by Mount Pleasant Primêr begin en sy hoërskoolloopbaan in 2017 by Gansbaai Academia.
Dit is hier waar sy leierseienskappe ontluik het.
“Ek het in graad 9 besef ek het die vermoë om ’n goeie leier te wees. Nadat ek in 2019 lid van die leerlingraad was, het ek tot die voorsitter van die studenteraad (vanaf 2020-’21) gevorder. Ek was ook die voorsitter van die Overberg-distrik se leerlingraad en ’n lid van die provinsiale leerlingraad-forum,” vertel hy.
Een van sy drome is in 2021 bewaarheid toe hy as Gansbaai Academia se hoofseun aangewys is.
Sy grootwordjare, vertel Chestiano, was nie maklik nie. Hy glo egter dit het gehelp om hom te vorm.
“Die moeilike tye het my gevorm. Jy sal baie slaggate op jou lewenspad teëkom, maar dit hang van jou af om jouself verder te druk en ’n sukses te maak. Tragedies en moeilike tye kom oor almal se pad. Jy moet besluit of die merk wat hierdie moeilike tye op jou laat, ’n teken van oorwinning of ’n teken van defeat is.”
Sy boodskap aan die jeug is: “Fokus op jou opvoeding, want dit stel jou in staat om ’n verandering in die wêreld te maak.”