Ian Roberts kom kuier

Vroeg op ’n Maandagoggend stap die bekende Suid-Afrikaanse akteur Ian Roberts rustig straat-op, op soek na die koffiewinkel waar hy gereël het om met die Hermanus Times te gesels.


Vroeg op ’n Maandagoggend stap die bekende Suid-Afrikaanse
akteur Ian Roberts rustig straat-op, op soek na die koffiewinkel waar hy gereël
het om met die Hermanus Times te gesels.

Hy is lank en lenig, dra sy kenmerkende hoed en met sy
potblou oë en rasperstem is hy onmiskenbaar. Meeste mense onthou hom as Sloet
Steenkamp uit die gewilde televisiereeks Arende, of ken hom as musikant van die
Radio Kalahari Orkes. Van die ouer garde sal hom onthou as Boet van ‘n
motorolie-advertensies.

Roberts praat gemaklik en openlik oor ’n wye verskeidenheid
onderwerpe en skroom nie om sy mening te lug nie, al is dit kontroversieel. By
tye voel dit asof sy blou oë tot in jou siel kyk, maar na daai rasperstem kan
mens heeldag luister.

Wat bring jou na
Caledon van alle plekke?

Radio Kalahari Orkes se violis, Wynand Davel, het hier
grootgeword en sy ma woon hier. Wanneer ons kleiner shows hier rond doen wat
jou nie huisves nie, woon ons by haar. Dis baie gerieflik, want dis sentraal
geleë vir shows in Botrivier, Greyton en Hermanus.

Jy kom van ’n baie
Engelse agtergrond en het op jou ouers se plaas in Fort Beaufort in die
Oos-Kaap grootgeword, Engelse skole bygewoon en aan Rhodes Universiteit
studeer, maar praat ook vlot Afrikaans en Xhosa. RKO se musiek is Afrikaans.
Hoekom?

Op die een vlak is dit toeval, op ’n ander vlak is dit ’n
eienaardigheid. Ek het van vroeg in my lewe ’n emosionele verbintenis met die
Afrikaner. My familie is Wallisers, nie Engelse nie. Ek was vir ’n ruk in
Engeland en het glad nie tuis gevoel nie. Ek was ’n vreemdeling en het gevoel
ek hoort nie daar nie. Ek kon nie vinnig genoeg uit die land kom nie.

Die emosionele ding het begin toe ek Arende moes studeer vir
die rol van Sloet Steenkamp. Hulle het vir my boeke van die Oorlogsmuseum in
Bloemfontein gestuur en ek is aangesê om dit te lees sodat ek kon verstaan wat
met daardie gevangenes gebeur het. Ek het gesien watter soort orde die Britte
wou afstempel op plekke wat hulle ingeval het, en dit is vir my walglik. Ek het
ook mense soos De La Rey se lewe bestudeer en in ’n mindere mate dié van De Wet
en Smuts.

Wie skryf julle
musiek?

My neef Dan Roberts, die skrywer Rian Malan, wat ook soms
saam optree, en ek.

Hoe het die pandemie
julle beïnvloed?

Ons het eintlik nooit ophou speel nie. RKO bestaan uit ses
lede, maar soms het net twee van ons die pad gevat en vir ’n handjievol mense
gespeel.

Wat was jou
gunstelingrol wat jy gespeel het?

Dit is ’n baie moeilike vraag, want wat met ’n mens gebeur
is dat jou ego verander soos jy aangaan. Wanneer jy jonk is, is jy vol ego en
dan is die ego rolle die beste. Maar soos jy aangaan en groei, word jy meer
soort van ego-loos en dan verander die rolle. Ek sal tog sê dat die rol wat die
grootste impak op my gehad het, was dié van Sloet Steenkamp in Arende. En voor
dit Verspeelde Lente. Ook die reeks Heroes was baie goed, maar niemand het
eintlik daarna gekyk nie, want dit was in Engels. Daardie rolle was vir my baie
spesiaal. Dan was daar ook die rolprent Everyman’s Taxi waar ek die uitdaging
gehad het om die regie te doen, die teks te skryf en om daarin te speel.

Watter bekende
akteurs met wie jy al gewerk het, het jou die meeste beïndruk?

Sidney Poitier het ’n groot impak gemaak op my. Hy is ’n
baie interessante mens en dit was nie nodig om baie te sê om mekaar te verstaan
nie. Vir Patrick Swayze het ek baie geniet as mens. Hy was ’n dapper man
gewees. Kim Basinger was ook ’n formidabele vrou.

Jy het onlangs weer
pa geword van ’n tweeling. Hoe ervaar jy dit?

Dit is ’n heeltemal ander storie as wanneer jy jonk is en
kinders kry. Alles wat met jou gebeur, beïnvloed jou waarde as ouer. Ek is nou
’n klein bietjie beter toegerus om meer betrokke te wees by die kinders. Dit
was moeilik met die eerste twee omdat ek en my eksvrou, Michelle Botes, baie
gewerk het en ook in die kollig was. Die tweeling is kort voor die pandemie
gebore en dit was ’n baie moeilike tyd. Ná ’n jaar het ek gevoel ek weet nie
meer wie ek is nie. Ek was so verlore in hierdie intensiewe tyd wat ons deur
is.

Waar kom jou
belangstelling in kruie vandaan?

Oor die jare het ek met kruie begin werk. Maria Treben se
Sweden Bitters was my inspirasie, maar ek het my eie dinge uitgewerk en maak my
eie tee-mengsel wat ek daagliks drink. Ek maak ook ’n kruie-olie wat ek
slangolie noem.

Jy was was ook ’n
slag stoksielalleen in die Kalahari. Vertel ons daarvan.

Ek wou ’n slag heeltemal alleen in die Kalahari wees, maar
daai plek kan jou voos maak. Dit kan jou gek maak. Die tweede nag het ek op ’n
duin gesit. Alhoewel dit ’n volmaannag was, was die sterre so helder en naby.
Dit het gevoel asof hulle op jou kop sit. Dit was stil. Doodstil. Dan hoor jy
die aarde wat draai. Dan weet jy wie en wat jy is en hoe klein jy eintlik is.

Wat sê jy oor liefde?

Die woord word so misbruik. Mense sê so maklik ek is lief
vir jou. Voetsek! Wat weet jy nou eintlik van liefde. Maar ek sê vir jou,
liefde is ’n bliksem hoor. As jy hom nou rêrig het, dan weet jy dis terminaal.
Dis koebaai.

Hoe lyk die pad
vorentoe?

Ek weet nie. Ek is ’n man wat baie dinge doen, nie net
musiek nie. Ek speel in rolprente, skryf tekste en is ook rolprentvervaardiger.
Ek probeer nou al vir vier jaar finansiering kry vir ’n rolprent. Ek het sewe
jaar aan die teks geskryf. Herskryf en herskryf. Dit kan moontlik so teen die
begin van die winter realiseer. Dít sal vir my die eerste prys wees.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.