Vroeg op ’n Maandagoggend stap die bekende Suid-Afrikaanse akteur Ian Roberts rustig straat-op, op soek na die koffiewinkel waar hy gereël het om met Hermanus Timeste gesels.
Hy is lank en lenig, dra sy kenmerkende hoed en met sy potblou oë en rasperstem is hy onmiskenbaar. Die meeste mense onthou hom as Sloet Steenkamp uit die gewilde televisiereeks Arende, of ken hom as musikant van die Radio Kalahari-orkes. Van die ouer garde sal hom onthou as Boet van die motorolie-advertensies.
Roberts praat gemaklik oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe en skroom nie om sy mening te lug nie. By tye voel dit asof sy blou oë tot in jou siel kyk, maar na daai rasperstem kan ’n mens heeldag luister.
Wat bring jou na Caledon van alle plekke?
Die Radio Kalahari-orkes se violis, Wynand Davel, het hier grootgeword en sy ma woon hier. Wanneer ons kleiner shows hier rond doen wat jou nie huisves nie, bly ons by haar oor. Dis baie gerieflik, want dis sentraal geleë vir shows in Botrivier, Greyton en Hermanus.Jy kom van ’n baie Engelse agtergrond en het op jou ouers se plaas in Fort Beaufort in die Oos-Kaap grootgeword, Engelse skole bygewoon en aan Rhodes Universiteit studeer, maar praat ook vlot Afrikaans en Xhosa. RKO se musiek is Afrikaans. Waarom?
Op die een vlak is dit toeval, op ’n ander vlak is dit ’n eienaardigheid. Ek het van vroeg in my lewe ’n emosionele verbintenis met die Afrikaner. My familie is Walliesers, nie Engelse nie. Ek was vir ’n ruk in Engeland en het glad nie tuis gevoel nie. Ek was ’n vreemdeling en het gevoel ek hoort nie daar nie. Ek kon nie vinnig genoeg uit die land kom nie. Die emosionele ding het begin toe ek Arende moes studeer vir die rol van Sloet Steenkamp. Hulle het vir my boeke van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein gestuur en ek is aangesê om dit te lees sodat ek kon verstaan wat met daardie gevangenes gebeur het. Ek het gesien watter soort orde die Britte wou afstempel op plekke wat hulle ingeval het, en dit is vir my walglik. Ek het ook mense soos De La Rey se lewe bestudeer en in ’n mindere mate dié van De Wet en Smuts.Wie skryf jul musiek?
My neef Dan Roberts, die skrywer Rian Malan, wat ook soms saam optree, en ek.Hoe het die pandemie julle beïnvloed?
Ons het eintlik nooit ophou speel nie. RKO bestaan uit ses lede, maar soms het net twee van ons die pad gevat en vir ’n handjievol mense gespeel.Wat was jou gunstelingrol wat jy gespeel het?
Dit is ’n baie moeilike vraag, want wat met ’n mens gebeur is dat jou ego verander soos jy aangaan. Wanneer jy jonk is, is jy vol ego en dan is die ego-rolle die beste. Maar namate jy groei, word jy meer soort van ego-loos en dan verander die rolle. Ek sal tog sê die rol wat die grootste impak op my gehad het, was dié van Sloet Steenkamp in Arende. En voor dit Verspeelde Lente. Ook die reeks Heroes was baie goed, maar niemand het eintlik daarna gekyk nie, want dit was in Engels. Daardie rolle was vir my baie spesiaal. Dan was daar ook die rolprent Everyman’s Taxi waar ek die uitdaging gehad het om die regie te doen, die teks te skryf en daarin te speel.Jy het onlangs weer pa geword van ’n tweeling. Hoe ervaar jy dit?
Dit is ’n heeltemal ander storie as wanneer jy jonk is en kinders kry. Alles wat met jou gebeur, beïnvloed jou waarde as ’n ouer. Ek is nou ’n klein bietjie beter toegerus om meer by die kinders betrokke te wees. Dit was moeilik met die eerste twee omdat ek en my gewese vrou, Michelle Botes, baie gewerk het en ook in die kollig was. Die tweeling is kort voor die pandemie gebore en dit was ’n baie moeilike tyd. Ná ’n jaar het ek gevoel ek weet nie meer wie ek is nie. Ek was so verlore in hierdie intensiewe tyd waardeur ons is.Waar kom jou belangstelling in kruie vandaan?
Ek het maar oor die jare met kruie begin werk. Maria Treben se Sweden Bitters was my inspirasie, maar ek het my eie dinge uitgewerk en maak my eie tee-mengsel wat ek daagliks drink. Ek maak ook ’n kruie-olie wat ek slangolie noem.Hoe lyk die pad vorentoe?
Ek weet nie. Ek is ’n man wat baie dinge doen; nie net musiek nie. Ek speel in rolprente, skryf tekste en is ook rolprentvervaardiger. Ek probeer nou al vir vier jaar om finansiering te kry vir ’n rolprent. Ek het sewe jaar aan die teks geskryf, herskryf en weer geskryf. Dit kan moontlik so teen die begin van die winter ’n werklikheid word. Vir my sal dít die eerste prys wees.