Sjef, wetstoepasser, honde-hanteerder, onderwyser, ingenieur. Daar is eindelose opsies waarvan baie mense nie eens bewus is nie.
Daarom het Hawston Sekondêre Skool verlede week in samewerking met Neo Life ’n suksesvolle loopbaanuitstalling vir die graad 12-leerders aangebied waar die leerders blootgestel is aan verskeie loopbaanrigtings en meer kon uitvind oor beurse, studielenings en ander noodsaaklike inligting.
Daar was onder andere aanbieders van Warwick-sjefskool, Neptune Diving School & Cruises, die Rupert Trust, Hermanus-polisie, Weskus-kollege, Boland-kollege, Northlink-kollege, KSUT, die Universiteit van Wes-Kaapland, Stadio Higher Education, Standard Bank en Overstrand-munisipaliteit se wetstoepassing-eenheid, Overstrand-verkeersdiens, die brandweer en menslikehulpbronne-afdelings.
Die leerders is van die toelatingsvereistes van die onderskeie tersiêre inrigtings, beskikbare beurse en studielenings en verskillende kursusse bewus gemaak. Die twee dae lange ekspo was nie net opvoedkundig nie, leerders het ook die geleentheid gehad om pret te hê tydens interaktiewe werksessies en demonstrasies.
Arnie Africa, die wyksraadslid van wyk 8 en burgemeesterskomiteelid vir bestuursdienste en kommunikasie, het beklemtoon hoe belangrik dit vir leerders is om meer te leer by mense wat in ’n beroepsveld is waarin hulle belangstel. Africa het Neo Life, ’n organisasie sonder winsbejag, bedank vir hul harde werk om die dag se sukses te verseker. “Baie dankie aan René Muller en Portia Kleinsmidt vir hul voortgesette toewyding. Neo Life bied die afgelope ses jaar loopbaan-advies, berading en ondersteuning by Hawston Sekondêr aan.”
Africa was vergesel deur die uitvoerende burgemeester van Overstrand, dr. Annelie Rabie, die onderburgemeester Lindile Ntsabo en raadslid Ronald Nutt.
Die burgemeester het beklemtoon hoe belangrik dit is om te kan droom en bygevoeg: “Wat jy droom, kan jy bereik”.
Sy het leerders aangemoedig om hard te werk “al weet jy nie wat jy volgende jaar wil doen nie.”
Sy het bygevoeg: “Moenie nee sê vir ’n werksgeleentheid nie en wees oopkop.
“Die leerders wat akademies presteer, moet so goed as moontlik in hul toetse doen sodat hulle kan aansoek doen vir ’n beurs as daar nie geld beskikbaar is vir leer nie.
“Moenie teen ‘geen geld’ vaskyk as verskoning nie – daar is meestal ’n plan te make mits jy betyds jou vorms invul en bereid is om hard te werk.”
Rabie het die matrieks aangemoedig om ’n groot verskeidenheid ambagte te ondersoek en te oorweeg.
Sy het ook die waarde van ’n mentor en/of rolmodel beklemtoon – veral vir dié wie nie met ’n pa of ma grootgeword het nie.
“ ’n Mentor sal vir jou leiding gee wanneer jy nie self die antwoorde het nie. Dis die persoon wat jou ophef. We all need wind beneath our wings’,” het sy bygevoeg.