Danksy die Groenberg-jukskeiklub in Sandbaai word jukskei al hoe gewilder – veral onder skoolleerders.
Die jukskeiklub het ook onlangs sy jaarlikse interskole-jukskeitoernooi aangebied, waar die Laerskool Mount Pleasant as die wenners uit die stryd getree het.
Volgens die organiseerders was die mededinging baie straf en het Mount Pleasant met net vier punte gewen. Hawston Primêr het vanjaar tot op die einde sterk teenstand gebied, maar Mount Pleasant se sterspelers Zianne Adams en Maurice August was op hul beste om die knoop vir hul skool deur te hak. Aden Arendse van Hawston het uitgeblink en sterk teenstand teen Mount Pleasant se aanval gebied. “Gemeet aan die hoë gehalte van die spel, was dit duidelik dat albei spanne gebaat het by die afrigting wat hulle van Groenberg-jukskeiklub se seniors ontvang het,” het een van die organiseerders gesê. Die liga het pas in die Overberg-distrik begin en na verwagting gaan die stryd in die A-liga weer taai wees tussen Kleinmond, Groenberg, Gansbaai en Struisbaai.