GENADENDAL – Hy woon al vandat hy twee jaar oud is in Genadendal en sien homself nêrens anders nie.
Japie Giliomee (34) het vroeg in die jaar besluit om ’n verskil in sy gemeenskap te maak. Ná die haelstorm, wat dié dorp 9 Januarie getref en baie mense dakloos gelaat het, het hy besluit om in te gryp nadat hy gesien het “die Theewaterskloof-munisipaliteit doen niks” rakende dié probleem nie.
“Ek het dadelik ’n vergadering belê met Chris Nissen, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK). Hy het op sy beurt met die munisipaliteit in kontak gekom en ons het 12 Januarie ons eerste vergadering gehou, waar ons as inwoners van Genadendal ons misnoeë oor die probleme in Genadendal uitgespreek het,” vertel Giliomee.
Volgens Giliomee het die munisipaliteit ná die vergadering uit sy pad gegaan om die toestande en dienste in Genadendal te verbeter. “Ons het einde Mei ook ’n opvolgvergadering gehou oor wat alles in Genadendal gebeur het. Ons sien definitief ’n verbetering en ons onderburgemeester, John Michels, het uit sy pad gegaan om die lewe van die mense in Genadendal te vergemaklik,” vertel hy.
Dis egter nie al waarmee Giliomee besig is nie – hy is besig om ’n organisasie sonder winsbejag te registreer sodat hy nog meer vir die mense – veral jongmense – van Genadendal kan doen.
“Ons toekoms lê by die jeug; die jeug is die leiers van môre, en dis waarom ons na hulle moet uitreik en vir hulle daar moet wees deur raad en leiding te gee,” vertel hy.
Giliomee het onlangs ’n skenking van Caledon CFM Wireless gekry waarmee hy vir ’n jaar kospakkies vir minderbevoorregte kinders kan gee. Verder het hy ook die jeug op Jeugdag (16 Junie) by die Genadendal-museum toegespreek oor loopbaangeleenthede.
“Die mense van Genadendal lê my na aan die hart; ek sal die ekstra myl vir hulle loop,” sê Giliomee.