Tannie Jeanetta du Pisani, pragtig uitgevat in ‘n helder pienk uitrusting en met ‘n pienk kroon op haar kop, het haar 100ste verjaardag op 26 September saam met medeinwoners van Heidehof Tehuis vir Bejaardes in Caledon gevier.
Tannie Jeanetta is in Klerksdorp gebore en het in Noupoort skoolgegaan. Ná skool het sy in Gqeberha begin werk, waar sy haar man, James, ontmoet het. Die egpaar, wat 60 jaar getroud was, het baie weens James se werk verhuis en in verskeie dorpe oor die land heen gewoon. Tannie Jeanetta is die afgelope 11 jaar ‘n inwoner van Heidehof.
Op ‘n vraag van Hermanus Times oor waaraan sy haar geseënde ouderdom toeskryf, antwoord tannie Jeanetta: “Dit is alles genade van die Here. Ek het probeer lewe soos ‘n kind van die Here. Ek het dit nie altyd reggekry nie, maar ek het probeer. Die Here het my die krag gegee om lankmoedig en vreedsaam te wees.”
Tannie Jeanetta is lief vir lees en hou ook van brei en hekel en luister graag na musiek.
Theresa le Roux, tannie Jeanetta se kleindogter, wat ook die verjaar- dagvieringe bygewoon het, sê: “Ouma is die mens wat my aan die Bybel voorgestel het. Ek het my eerste Bybel van haar gekry. Sy het my ook leer kaart speel en hoe om kaarte weg te steek. Sy is nog altyd net lig.
“Ek het altyd gesê as daar rêrig ‘n engel op aarde sou wees, dan is dit Ouma, want sy is baie opreg in die waardes waaraan sy glo. Sy is ‘n voorbeeld vir my en dit is vir my ‘n baie groot voorreg om dié dag saam met haar te kan vier, want ek het letterlik ‘n week en ‘n half voor haar verjaardag Hermanus toe verhuis.
“En Ouma is nie Ouma sonder haar pienk lipstiffie nie!”
Oom Wikus Augustyn, ook ‘n Heidehof-inwoner, het lekker saamsingliedjies op sy trekklavier gespeel en Cerise Phaul het die pragtige verjaarsdagkoek gebak en geskenk.


