In 2017 het menige inwoner die gevreesde Dag Zero gevrees – damme was
leeg, planne was beraam en mense het water bespaar waar hulle kon.
In 2018 en 2019 is die sluise van die hemel letterlik oopgemaak en
damme was weer vol, maar owerhede waarsku dat inwoners nie water moet mors nie.
Die De Bosdam, wat water aan die Hermanus-distrik voorsien, is maar
net 85,28% vol en het met 1,42% van verlede week gedaal. Volgens
die Overstrand-munisipaliteit is die watergebruik 12,356 miljoen liter per dag
en vra hulle dat mense spaarsamig moet werk met water.
Die Theewaterskloofdam buite Villiersdorp is maar net 58% vol en volgens
die Wes-Kaapse regering is die gemiddelde damvlakke oor die Wes-Kaap heen,
gemeet op 23 Januarie, maar net 56,3%. Op 2 Januarie was dit 60,9%.
“Ons moet almal saamstaan en minder water verbruik sodat ons
sodoende nie waterbeperkings in die gesig moet staar nie. Moenie water onnodig
gebruik nie,” het ‘n woordvoerder vertel.
Die wenke kan help om water te bespaar:
Moenie die
kraan oop los wanneer jy tande borsel, skeer of jou hande was nie;
Moenie
onnodig wasgoed was nie;
Stort eerder
as wat jy bad;
Moenie ‘n
tuinslang gebruik wanneer jy jou voertuig was nie.