Inwoners van Hawston het verlede week ’n vreedsame optog gehou om te eis dat die Overstrand-munisipaliteit se veiling van erwe in die dorp stopgesit moet word.
Dié grond – waaronder twee residensiële erwe en vyf erwe wat as sakepersele gesoneer is – “kan beter aangewend word vir ontwikkeling van die dorp”, sê die gemeenskap. Nog ’n vraag wat gevra is, was of die verkoop van die erwe enige ekonomiese voordele vir die klein vissersgemeenskap inhou.
“Ons is nie teen ontwikkeling nie, maar ons wil nie misken word deur die munisipaliteit in besluite wat ons dorp raak nie,” het Theo de Villiers, die voorsitter van die Hawston-gemeenskapsforum, gesê.
Dean O’Neill, die OM se munisipale bestuurder, het hierop gesê ’n voorafgaande openbaredeelnameproses ten opsigte van die verkoop van munisipale grond is nie ’n vereiste wat wetgewing betref nie, tensy “met ’n hoë-waarde-eiendom gehandel word”.
Volgens O’Neill is nie een van die geïdentifiseerde erwe in Hawston as hoë-waarde-eiendomme geklassifiseer nie.
“Die besigheidserwe het wel deur ’n openbaredeelnameproses gegaan toe dit by wyse van onderverdelings geskep is met die daaropvolgende hersonerings daarvan. Wetgewing vereis wel ’n openbaredeelnameproses nadat die mededingende proses gefinaliseer is om die publiek in kennis te stel van die raad se voorneme om die eiendom in die naam van die suksesvolle koper oor te dra en die koopprys word dan ook geopenbaar.
“Daarna moet die raad nog die finale oordrag van die eiendom goedkeur inaggenome die kommentaar van die publiek,” het hy verduidelik.
Die besluit om die erwe nie net in Hawston nie, maar ook in verskeie ander dorpe in die Overstrand, op te veil, het O’Neill verduidelik, is geneem na aanleiding van ’n behoefte wat deur die publiek geïdentifiseer is.
“Die munisipaliteit mag net ontwikkelbare eiendom by wyse van ’n mededingende proses (byvoorbeeld tender/veiling) verkoop.
In dié geval is aansoeke ontvang wat daartoe gelei het dat ondersoek gedoen is na die beskikbaarheid van grond vir die verkoop daarvan aan die publiek.”
Cotley May, die ondervoorsitter van die gemeenskapsforum, se mening is dat die erwe wat opgeveil sou word, beter aangewend kan word vir byvoorbeeld die ontwikkeling van ontspanningsgeriewe.
“Daar is nie speelparke vir die kinders van ons dorp of enige ontspanningsgeriewe vir volwassenes nie.
“Ons het vertroulik verneem dat ’n groot stuk grond naby die see vir die ontwikkeling van laekostebehuising geïdentifiseer is. Dit is prime property wat vir groot bedrae verkoop kan word of beter aangewend kan word om toerisme-geleenthede – veral ekotoerisme – te skep en te bevorder. Die walvisse lê gereeld teenaan ons kus – hoekom kan geleenthede dus nie geskep word om deur walviskyk meer toeriste na ons dorp toe te lok nie?” het hy bygevoeg.
Harry Johnson, die voorsitter van die Harriesbaai-visserskoöperasie, wat altesaam 262 lede het, sê gerugte doen die ronde dat grond langs Haweweg bestem is vir die bou van ’n hotel. “Daardie grond sal ideaal wees vir die co-op om ’n perlemoenplaas te begin en sodoende werksgeleenthede vir die vissers te skep. Van die besigheidserwe wat hulle wil opveil, kan ook gebruik word vir ’n verwerkingsaanleg vir ons,” was sy mening.
’n Sakeman van die dorp (wat nie geïdentifiseer wou word nie) het voorgestel dat die munisipaliteit plaaslike inwoners en sakeondernemings ses maande tot ’n jaar moet gun om hul sake in orde te kry om erwe wat nie suksesvol opgeveil is nie, te koop.
Nog ’n inwoner is van mening dat die openingsbod veels te hoog is en dat dít ’n manier is om die “arm gemeenskap uit te sluit”.
“Daar kan nie veel meer ontwikkeling in Hermanus plaasvind nie en ons het die pragtigste strand en natuurskoon. Dit lyk asof die pryse van grond in Hawston doelbewus opgestoot word sodat die gemiddelde inwoner van Hawston dit nie kan bekostig om grond hier te koop nie,” het sy gesê.
Die Overstrand-munisipaliteit het by navraag bevestig die veiling het voortgegaan, maar gesê geen aanbiedinge is op enige van die erwe ontvang nie. Volgens die munisipaliteit het slegs vier belangstellendes vir die veiling van die grond in Hawston geregistreer.
Die aanlynveiling vir eiendomme in ander gebiede, het O’Neill gesê, vind volgende week plaas.
“Veilings is op 13 November 2024 in Kleinmond en Mount Pleasant gehou, waar aanbiedinge op die sewe eiendomme in verskillende gebiede ontvang is. Die munisipaliteit gaan voort met die geskeduleerde aanlynveilings.”
De Villiers het inwoners van Hawston aangemoedig om by die gemeenskapsforum aan te sluit om sodoende ’n verenigde front te vorm wat vir die vissersdorp en sy inwoners se belange sal veg en ook gereelde vergaderings sal bywoon. Mense kan hom vir meer inligting by 083 393 3029 kontak.