Inwoners oorstelp

Om uiteindelik jou huis ná 15 jaar te kry, laat jou nie net in trane nie, maar gee jou weer hoop vir die toekoms.


Om uiteindelik jou huis ná 15 jaar te kry, laat jou nie net in trane nie, maar gee jou weer hoop vir die toekoms.

Vra maar die begunstigdes van Blompark, nadat die Overstrand-munisipa­liteit die eerste 150 huise in fase 1 van die Blompark-behuisingsprojek op 26 Augustus aan hulle oorhandig het. Die tweede fase is vir die oprigting van 100 huise. Bouwerk het reeds begin en sal na verwagting teen Junie 2023 voltooi wees.

Die oorblywende eenhede en gedienste erwe sal oorstaan tot die volgende boekjaar namate finansiering beskikbaar gestel word.

Emily Fourie was die eerste van die begunstigdes om saam met raadslid Ronald Nutt, die burgemeesterskomitee-lid vir gemeen­skapsdienste, en Riana de Coning, wyk 14 se raadslid, die rooi lint voor haar nuwe huis se voordeur te knip.

“Vandag kan ek net die Here dank vir my droom wat waar geword het. Ek is 76 jaar oud en het nog altyd by ander mense gebly,” het Emily met trane in haar oë gesê.

Een van die ander huiseienaars, die 70-jarige Thinus Engel, het gesê hy is sedert 2007 op die behu­isingswaglys. Engel het bykans 40 jaar by Gansbaai Marine gewerk en by sy jeugvriend, Samuel Titus, gewoon. “Ek is bly hierdie voorreg is my nie ontneem nie.”

De Coning, ’n wyksraadslid vir Blompark, het in haar toespraak gesê sy en die gemeenskap van Blom­park en Beverley Hills droom al sedert 2017 van hierdie dag. “Dit was ’n lang en moeilike pad tot vandag, maar hier is ons uiteindelik en ons is dankbaar. Julle geduld en samewerking is die rede dat julle vandag in jul nuwe huise kan instap. Woon lekker en maak hierdie huise ’n woning van liefde.”

In sy hoofrede het Nutt begunstigdes aangemoedig om verantwoordelike huiseienaars te wees wat behoorlik na hul eiendom omsien – “dit sluit die versorging van jou huis, jou tuin, jou straat en jou woonbuurt in”.

“Voeg waarde toe. Moenie mors met die geleentheid wat vir jou gegee is nie. Geniet jou slaapplek; jy kan vir jou familie ’n nalatenskap los. Dit is ’n bate wat nou aan jou en jou familie behoort,” het die raadslid gesê.

Hy het begunstigdes daaraan herinner dat hulle ’n testament moet opstel en nie hul huise mag verhuur of verkoop of as ’n spazawinkel gebruik nie. Ter afsluiting het Nutt vir Aron Gcotyelwa en sy span by die departement van behuising asook Abigail Jacobs en Dennis Hendriks en hul span by infrastruktuur en beplanning bedank vir hul harde werk en logistieke reëlings voor en tydens die oorhandiging.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.