“Botrivier-inwoners voel verlore. Dis al asof die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) van ons vergeet het – ons voel soos die stiefkind.”
Dít was die woorde van die wykskomiteelid Johannes Syms oor die beweerde ongerymdhede wat in die TWK heers, asook griewe van inwoners wat deur die jare nooit aangehoor word nie.
Ouers het op 18 Januarie 2023 na Botrivier Primêre Skool opgeruk om hul misnoeë oor die toestand van die skool en die verwagting van ’n nuwe skool uit te spreek (“Ouers ruk op oor probleme”, Hermanus Times, 25 Januarie 2023). “Niks het van die beloftes gekom wat die onderwysdepartement destyds gemaak het nie,” het Syms bevestig.
Verlede week het die inwoners weer hul stemme dik gemaak en op 14 Februarie ’n vreedsame optog langs die N2 gehou, waarna hulle ’n memorandum aan die Wes-Kaapse regering en die TWK oorhandig het.
“Die premier, Alan Winde, kon nie teenwoordig wees nie en het Anton Bredell afgevaardig om die memorandum in ontvangs te neem. Die TWK het Jan Barnard gestuur om die memorandum in ontvangs te neem. Hy kon die helfte van die vrae nie beantwoord nie,” het Syms gesê.
Van die punte wat hulle aangeraak het, is hoëmasligte wat hulle al in 2022 aangevra het, grond vir nog ’n skool (tegniese skool), die opgradering van die sportterrein, ’n versorgingsoord vir die bejaardes, die ondersoek na tenderprosesse deur die TWK asook die aanstelling van en grond vir opkomende boere.
“Die Wes-Kaapse regering het 14 dae ná ontvangs van die memorandum die geleentheid om antwoorde te gee en die TWK tot 22 Februarie.
“Ons gaan dit nie hier laat nie. Ek het al ons griewe aan die president [Cyril Ramaphosa] deurgegee en ons gaan aanhou veg tot ons antwoorde kry,” het Syms afgesluit.