Inwoners van Gansbaai moeg vir misdaad in vreedsame dorp

Ná twee wrede en sinnelose moorde binne die bestek van minder as een maand het inwoners van Blompark, Gansbaai, besluit “genoeg is genoeg” en om saam te staan om misdaad […]


Ná twee wrede en sinnelose moorde binne die bestek van minder as een maand het inwoners van Blompark, Gansbaai, besluit “genoeg is genoeg” en om saam te staan om misdaad en misdadigers in hul eens stil gemeenskap hok te slaan.

Sedert Ricardo Tobias se liggaam met ses steekwonde en sy kop vermink deur ‘n betonblok, wat op hom gegooi is, op 24 Maart ‘n hanetree van sy woonplek af gekry is, het die gemeenskap reeds verskeie optredes van stapel gestuur om hul stem dik te maak teen die euwels in die gemeenskap. Inwoners het ‘n week ná die moord op Tobias – ‘n gewilde en geliefde kelner by ‘n restaurant in die dorp – aan ‘n vreedsame optog deelgeneem en ‘n memo- randum waarin meer sigbare polisiëring en strenger polisieoptredes geëis word, aan die plaaslike polisie oorhandig.

‘n Groep inwoners beplan om Maandag (5 Mei) met plakkate voor die Hermanus- landdroshof te vergader om te eis dat die twee tieners, onderskeidelik 18 en 19, wat van Tobias se moord aangekla word, nie op borgtog vrygelaat moet word nie. Talle lede van die gemeenskap het ook ‘n petisie onderteken wat eis dat die verdagtes in aanhouding bly.

Die moord op Eben Olyn minder as ‘n maand na dié van Tobias, het verdere petrol op die vuur vir die ontstoke inwoners se gemoedere gegooi. Die Black Leaves-rugbyspeler is Saterdag 19 April afgemaai terwyl hy en ‘n vriend voor sy huis in Roosstraat, Blompark, gekuier het. Twee mans het volgens berigte ses skote gevuur voordat hulle op die vlug geslaan het.

AO Joseph Swartbooi, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat twee mans in verband met Olyn se moord in hegtenis geneem is. Inwoners het dae later by die moordtoneel vergader om saam te bid en “die pad vorentoe teen misdaad” te bespreek.

John Jacobs. ‘n gemeenskapsleier, het gesê 300 tot 400 mense het die byeenkoms bygewoon. Die algemene gevoel, het Jacobs gesê, is dat inwoners “siek en sat” is vir misdaad. “Die duidelike boodskap was almal gaan saamstaan om ons dorp terug te vat en die deur in Blompark is nie meer vir misdadigers oop nie.

“Ons het só ver gekom dat ons kameras in Blompark gaan laat aanbring om met misdaadbestryding in die gebied te help.” Hy het ook ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om met die betrokke rolspelers in die stryd teen misdaad hande te vat en die petisie teen borgtog vir die beskuldigdes in Olyn se moordsaak te onderteken.

Die polisie het nié die vraag of gerugte waar is dat Olyn ‘n staatsgetuie in ‘n POCA-verwante saak sou wees, geantwoord

nie. Agt mans, onder wie Reyaaz Dennis, wat reeds ‘n langtermynvonnis vir moord en ander bendeverwante misdade uitdien, het onlangs in die Hermanus-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met oortredings van die wet op voorkoming van georganiseerde misdaad (POCA), poging tot moord en Cameron Padayachee se moord in Blompark in Desember 2021.

Die vraag of die mans wat van Olyn se moord aangekla is, se saak by dié van die agt verdagtes gevoeg gaan word, is ook nie beantwoord nie. “Aangesien die ondersoek nog ontvou, is dit wys om nie enige verdere inligting bekend te maak nie,” het Swartbooi geantwoord.

You need to be Logged In to leave a comment.