Waterbeperkings is onlangs in die Kaap Agulhas-munisipaliteit ingestel.


Inwoners van die Kaap Agulhas-munisipale bedieningsgebied sal hul watergebruik drasties moet verminder nadat streng waterbeperkings sedert Dinsdag 1 November in werking gestel is.

Die Kaap Agulhas-munisipaliteit het verlede week aangekondig dat die vlak-3-waterbeperkings vir huishoudings en alle ander verbruikers onmiddellik van krag is. “Waterbeperkings vir die Kaap Agulhas-munisipale gebied word ingestel weens lae reënval en lae damvlakke. Dit word verder vererger deur verlengde beurtkrag-periodes,” het die munisipaliteit in ’n verklaring gemeld. Die Sanddriftdam sowel as die Vleikloofdam wat water aan die gebied voorsien, se vlakke is tans baie laag – Sanddriftdam is slegs 18% vol terwyl die Vleikloofdam op 40% staan.

Huishoudings wat meer as 20 kl water per maand gebruik en ondernemings wat die toegelate 50 kl per maand oorskry, sal aansienlik hoër tariewe vir watergebruik moet betaal. “Indien huishoudings meer as 20kl per maand gebruik, sal ’n toeslag van 30% op die waterrekening gehef word,” het Eben Phillips, KAM se munisipale bestuurder verduidelik.

Ondernemings wat 50 kl per maand oorskry, sal 20% ekstra moet opdok. Die volgende maatreëls sal van krag wees: Geen natlei van tuine en grasperke word toegelaat tussen 07:00 – 18:00; Die was van voertuie en vaartuie met tuinslange met munisipale drinkwater is nie toelaatbaar nie; Die was of afspuit van harde oppervlakke of geplaveide areas met munisipale drinkwater is verbode.

Verbruikers word gemaan om water spaarsamig te gebruik. Enige navrae kan KAM se bestuurder van water en sanitasie by 028 425 5500 of aan info@capeagulhas.gov.za gerig word. 

You need to be Logged In to leave a comment.