Die bekende aktrise Melanie du Bois was die eregas en Clint August, ‘n plaaslike kunstenaar, wat as seremoniemeester opgetree en selfs die gaste met sy pragtige sang vermaak het.

Die vroue van Napier en omgewing het Vrouedag tydens die Elpida-stigting se spesiale geleentheid in styl gevier.

Die tema van die dag was “Bemagtig vroue; inspireer hoop”. Die bekende aktrise Melanie du Bois, wat die rol van Felicity Daniels in die TV-reeks 7de Laan vertolk het, het in haar rol as gasspreker geskitter. Clint August, ‘n plaaslike kunstenaar, was die seremoniemeester en het ook twee sangitems gelewer.

Die tema, sê Carmen Jagers, een van die drie direkteure van Elpida, was om te beklemtoon hoe vroue se krag, veerkragtigheid en prestasies as bakens van hoop vir toekomstige geslagte dien.

‘n Plaaslike vrou (66) het ook haar storie van hoop gedeel. Sy het Elpida bedank vir hul hulp om ‘n geboortesertifikaat en identiteitsdokument te bekom sodat sy om pensioen aansoek kan doen. Elpida het haar onder meer bygestaan om ‘n dokter te spreek sodat ‘n ouderdomskatting gedoen kon word, om die departement van binnelandse sake te besoek en ‘n spesiale onderhoud te reël met ‘n beampte wat dié soort gevalle hanteer en DNS-toetse te reël.

Die gaste is ook elkeen bederf met ‘n spesiale geskenkpak wat tydskrifte, lekkergoed en ‘n spesiale boekmerk bevat het. Die vroue (en ‘n paar mans) wat die geselligheid bygewoon het, het ook vet pret gehad. Hulle is deur die Care Buddies vermaak, wat gewys het al is jy oud, hoef jy nie koud te wees nie en al gebruik ‘n paar al kieries, het hulle die gehoor met danspassies vermaak. Van die gaste het selfs uit hul stoele opgestaan en ook op maat van die musiek gedans.

“Namens Elpida wil ons uit ons harte dankie sê aan elkeen wat ‘n kaartjie gekoop het; elke skenker wat bygedra het en aan ons ongelooflike span wat so hard gewerk het om hierdie dag ‘n sukses te maak. Jul ondersteuning beteken vir ons meer as wat woorde kan sê.

“Ons eer die Here vir Sy seën en leiding; sonder Hom sou dit nie moontlik gewees het nie. ‘n Spesiale dankie ook aan ons programdirekteur, die DJ en die fotograaf vir jul professionele bydraes tot ‘n onvergeetlike dag,” het Jagers afgesluit.

Die gaste het hulself terdeë geniet en selfs lekker gedans.
Die Care Buddies het gewys hulle is oud maar beslis nie koud nie en almal met hul vrolike danspassies vermaak.
Yvonne Havenga het haar tafel in die danskompetisie verteenwoordig en sodoende vir elkeen ‘n kombers gewen. Alfonzo Pedro, een van Elpida Stigting se direkteure, het die pryse oorhandig.
Die bekende aktrise Melanie du Bois was die eregas en Clint August, ‘n plaaslike kunstenaar, wat as seremoniemeester opgetree en selfs die gaste met sy pragtige sang vermaak het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article