Inwoners van Paradisepark en ander gebiede het Vrydag na die munisipale kantoor opgeruk om hul ontevredenheid oor die uitsettingsbevel wat die inwoners ontvang het, uit te spreek.Foto: Mariëtte Strydom


“Is Overstrand werklik daar vir almal?”

Dít is die vraag op Paradisepark-inwoners se lippe nadat die hof verlede week beveel het om finaal met die uitsettings van erf 927 te begin.

Verslae inwoners het op ’n koue wintersoggend op 6 Junie, toe die kwik maar op 9 °C gestaan het, geluister hoe Magna Business Services hulle in ken­nis gestel het dat die uitsettings­proses gaan plaasvind. Later moes hulle toekyk hoe die Rooi­miere hul eens rustige buurt binnekom – gewapen – en hulle soos “skurke” laat voel.

Hulle het diegene wat hul eiendom vrywilliglik sal verlaat, kans gegee om dit teen 10 Junie per e-pos aan te dui en dan sal hulle tot 24 Junie gegun word om hul persoonlike besittings op te pak en te verhuis.

Geen ander heenkome

Volgens Tracey Henn, ’n gemeenskapsaktivis en self ’n inwoner van Paradisepark, het die meeste van die inwoners geen ander heenkome nie. Met behuising wat ’n groot probleem in die Overstrand- munisipale gebied is, is die ongeveer 300 inwoners van Paradisepark behoorlik platgeslaan.

“Ons het ná die vorige raadsvergadering, waar die burgemeester belowe het dat hulle sal onderhandel om die grond te koop, gehoop hierdie nagmerrie sal verby wees, maar nou lyk dit my ons is in die middel daarvan,” het ’n inwoner vertel.

Nog ’n inwoner sê sy woon al 40 jaar in Paradisepark en noem dit haar eie. “Ek het die huis wettig gebou met bouplanne wat deur die destydse muni­sipaliteit goedgekeur is. Waar­heen dan nou?”

Henn sê die meeste inwoners van Paradisepark is ouer as 65 en afhanklik van Sassa-toelae. Volgens haar is die teenwoor­digheid van die Rooimiere ook ’n probleem en voel die inwo­ners geïntimideer. Een van die inwoners vertel van ’n kind wat by haar onderwyseres moes gaan bly aangesien sy nagmer­ries kry oor die manne met wapens wat hul eens rustige buurt nou steur.

“Ek het vanoggend (14 Junie) baie vroeg drie skote gehoor,” het nog ’n inwoner vertel.

Maandag 10 Junie het die inwoners van Paradisepark tesame met die president van die ACC, Masizole Mnqasela, ’n vreedsame optog na die Over­strand-munisipaliteit gehou om ’n memorandum oor die toekoms van Paradisepark en diensle­wering aan die burgemees­ter, dr. Annelie Rabie, te oorhandig.

Volgens Mnqasela was dit vir hom skokkend om te sien dat Rabie letterlik haar rug op die Paradisepark-inwo­ners gedraai en nie die memorandum aanvaar het nie aange­sien dit van ’n politieke party is en nie van die inwoners nie.

Nie politiek nie

“Vir ons gaan dit nie oor politiek nie. Ek het my al destyds, toe ek nog ’n DA-lid was, beywer om ’n toekoms vir die Paradisepark-inwoners daar te stel. Tertuis Simmers en ’n voormalige premier van die Wes-Kaap, Helen Zille, het ook die inwoners van Paradisepark gerusgestel,” het Mnqasela gese.

Volgens hom was hulle baie positief oor die hele proses aangesien Rabie haar tydens ’n raadsvergadering op 27 Maart glo verbind het om aandag te skenk aan die koop van Paradisepark vir die inwoners.

Hermanus Times het ’n afskrif van ’n brief wat Rabie op 31 Januarie aan die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelings­beplanning, Anton Bredell, gerig het. In die brief stel sy dit dui­delik dat sy nie by die destydse onderhandelinge tussen Zille, Simmers, Mnqasela en die inwoners van Paradisepark betrokke was nie. “As skrywer was ek nie betrokke by die beweerde beloftes van onteiening met redelike vergoeding nie en daarom rig ek formeel die versoek aan u,” lui die brief.

Tydens Vrydag (14 Junie) se vreedsame optog het die organiseerders daarop aange­dring om ’n memorandum aan die burgemeester te oorhandig. Rabie het by mon­de van munisipale wetstoepassers laat weet die verteen­woordiger van Paradisepark kan haar kom sien en die memoran­dum aan haar oorhandig. Die pers is nie by die oorhandiging toegelaat nie aangesien dit glo ’n “geslote vergadering” was.

“Ons gaan nie ophou veg vir dit wat reg is nie. Dis ons reg om hier te bly – dít wat sy vir Schulphoek se inwoners gedoen het, kan sy vir ons ook doen,” het ’n inwoner gesê.

Mnqasela het ook bevestig die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die Menseregte­kommissie is bewus van die aangeleentheid en het glo belowe dat hulle aandag daaraan sal gee.

Rabie het wel erken sy het die memorandum ontvang: “Daar word kennis geneem van die inhoud van die memorandum en ek ontken dit ten sterkste. Ek sal ’n afskrif ontvang, maar sal nie daarop reageer nie.”

.

You need to be Logged In to leave a comment.