Ek weet gewoonlik wanneer dit gaan reën en
daarvoor hoef ek nie noodwendig na een van die vele beskikbare weerberigte te
kyk nie. Ek het ook nie ‘n knie of ander gewrig wat voor die tyd begin pyn nie.
Ek kan bloot by my voordeur uit kyk.
Wanneer daar ‘n wolk bo die Babylonstoring-berg hang, gaan dit reën. Hoe nader dit aan reën is, hoe dieper steek sy haar
kop in die wolke weg totdat sy uiteindelik in ‘n wolkmantel gehul is. Anders as
die weerberigte is sy selde verkeerd.
Ek kan ook bloot na my katte kyk. Wanneer
hulle skielik aandagtig agter hulle ore begin was, is daar reën aan die kom.
Die voorpoot word gelek en dan met stadige hale van agter die oor oor die gesig
getrek. So drie of vier keer, dan hou hulle op.
Baie jare gelede het ek vir ‘n vriendin
genoem dat dit gaan reën omdat Shatra, wat “die slim een” beteken, agter haar
ore was. Gillian het gelag en gesê:” Oh Mitzerella, you know we live in a
desert and it only rains every four or five years.” Die volgende dag toe dit in
die woestyn reën, bel sy om te sê dat die kat reg was.
Die einste Shatra-kat het ook op ‘n slag
vir ‘n paar dae agter haar ore gewas. Nee, dit het nie gereën nie, maar die
hele Midde-Ooste is deur ‘n hewige sandstorm getref wat dae lank aangehou het, en
waaroor wêreldwyd berig is.
Matrose het reeds so vroeg soos die 18de
eeu hul skeepskatte fyn dopgehou vir veranderinge in weersomstandighede.
Sommige het blykbaar geglo dat katte towerkragte in hul sterte stoor wat
verantwoordelik is vir storms.
Baie mense sal dink dat dit sommer ‘n
ouvrou-storie is dat katte agter hulle ore was voor dit reën, maar daar is
eintlik ‘n baie eenvoudige verduideliking daarvoor. Katte se binne-oor is
geweldig gevoelig vir enige verandering in atmosferiese druk en dis hoekom
hulle agter hulle ore was, gewoonlik ‘n dag of wat voor dit gaan reën.
Anders as in Namibië waar ek grootgeword
het, kry ons hier in die Overberg nie dikwels swaar weer nie, maar as daar die
dag ‘n paar harde donderslae is, skrik ek gewoonlik so dat ek amper uit my
stoel uit val.
My katte skrik nie vir reën nie en kom
dikwels sopnat die huis binne, maar my Leeu-kat hou niks van donderweer nie.
Met die eerste gedreun het hy gewoonlik buitentoe gesluip om iewers te skuil. Deesdae
gaan sit hy onder die eetkamertafel nog lank voor ek enige gerammel van
donderweer hoor.
‘n Vriend van my wat in die Hoëveld woon
is nóg banger as Leeu vir donderweer. Hy en een van sy katte gaan klim in ‘n
kas en sit daar totdat die storm verby is. Ek kry dikwels ‘n benoude “ek is in
die kas”-boodskap. Maar eintlik het hy al baie jare gelede uit die kas geklim.