Esné Bester (biblioteekdienste), Yolanda Hofmeester, Renske Kiewitz, Jeannette Pieterse en Gerhard van Wyk tydens Jeannette se laaste besoek aan die Caledon-biblioteek.


Ná 26 jaar in die biblioteekdiens, waarvan sy vir die laaste ses jaar streeksbibliotekaresse vir alle biblioteke in die Theewaterskloof en Overstrand was, het Jeannette Pieterse einde November 2024 afgetree en na Gauteng verhuis.

As streeksbibliotekaresse was Jeannette onder meer verantwoordelik vir die aankoop van alle nuwe boeke vir die biblioteke in haar streek. “Voor Covid het ons gereeld vir twee of drie dae Kaapstad toe gegaan om nuwe boeke te gaan koop, maar nou word die aankope aanlyn deur alle streeksbibliotekarisse gedoen,” sê Jeannette.

Met dié nuwe boeke gaan die “boekebus” dan “op toer” na die onderskeie biblioteke, waar die bibliotekarisse van die nuwe boeke kan kies vir hul biblioteek.

“Elke toer was vir my ’n hoogtepunt. Ons werk nie met die publiek nie; dis jou span wat in ’n streek werk. Die interaksie met die onderskeie biblioteke was vir my wonderlik en belangrik, want hier het ek gesien hoe die biblioteke funksioneer en ook hoe hulle dikwels raad wat aan hulle gegee is, volg,” noem Jeanette.

“Toe ek in 2015 hier aangekom het, was biblioteekdienste 60 jaar oud, en nou – in 2025 – word dit 70 jaar. Met die aftrede van baie ouer mense is daar nou ook ’n invloei van jonger mense en nuwe gedagtes en verskeie nuwe dienste wat aangebied word,” sê Jeanette.

“Die biblioteke was my passie en dit gaan ek baie mis. Ek het in Oktober 2024 my laaste toer met die boekebus na al die biblioteke gedoen. Hopelik gaan ek nou meer tyd kry om te lees, want daar is so baie nuwe, interessante skrywers,” sluit Jeanette af.

Gerhard van Wyk van die Caledon-biblioteek sê: “Dit was vir my ’n voorreg om Jeannette vir die afgelope ses jaar as streeksbibliotekaresse te kon hê. Sy is ’n mens met ’n absolute passie vir haar werk en ons verhouding was gemaklik en gevul met wedersydse respek. Sy het ons as Caledon-personeel altyd ondersteun en aangemoedig in projekte wat ons aanpak. My beste wense vergesel haar op haar lewenspad.”

You need to be Logged In to leave a comment.