Jeugdiges uitgedaag om meer bloed te skenk

Die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKB) doen steeds ’n beroep op die publiek – veral jeugdiges – om bloed te skenk om lewens te red. Die bloeddiens beoog om elke dag 700 eenhede bloed in te samel.


Die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKB) doen steeds ’n beroep op die publiek – veral jeugdiges – om bloed te skenk om lewens te red.

Die bloeddiens beoog om elke dag 700 eenhede bloed in te samel om die provinsie van ’n veilige, voldoende bloedtoevoer te voorsien. Ideaal gesproke behoort 1% tot 2% van die bevolking bloed te skenk. Die Wes-Kaapse bevolking het die afgelope jaar tot 7,6 miljoen gegroei.

Die WKB beoog om sy aktiewe skenkerbasis in die komende jaar met 4 000 nuwe bloedskenkers te vergroot om tred te hou met die vraag na bloed en die steeds groeiende bevolking. Die WKB het tans 72 200 aktiewe bloedskenkers.’n Aktiewe bloedskenker is iemand wat minstens een eenheid bloed – hetsy plasma, bloedplaatjies of volbloed – in ’n jaar skenk. Die WKB beoog ook om 163 000 eenhede bloed deur die jaar in te samel om in die behoeftes van pasiënte te voorsien.

Die jeug speel ’n deurslaggewende rol in die volhoubaarheid van die skenkerbasis. “Om die jeug te bemagtig om bloed te skenk, gaan nie net oor die voorsiening van onmiddellike behoeftes nie; dis ’n belegging in die toekomstige volhoubaarheid van ons bloedvoorraad,” sê die WKB-skakelbestuurder, Marike Carli.

Tans is die skenkerbasis volgens ouderdomsgroep soos volg: . 16 tot 18 jaar – 8% . 19 tot 25 jaar – 14% . 26 tot 29 jaar – 7% . 30 tot 39 jaar – 18% . 40 tot 49 jaar – 20% . 50 tot 59 jaar – 18% . 60 plus jaar – 15%Die diens hoop om die jeuggedeelte van die skenkerbasis aktief te vergroot sodat 10% van die algehele aktiewe skenkerbasis deur 16- tot 18-jarige skenkers verteenwoordig word en dat dit op 14% van die algehele aktiewe skenkers vir 19- tot 25-jarige skenkers bly. “Ons moedig alle bloedskenkers aan om vanjaar iemand te help deur hulle daartoe te verbind om minstens vier keer in 2024 bloed te skenk,” het Carli bygevoeg.

Elke skenker wat hierdie mylpaal bereik, sal ’n ekstra blyk van waardering ontvang. Hulle kan ’n neopreen-skootrekenaarsak, naweeksak of ’n rugsak op hul vierde skenking kies. Skenkers ouer as 65 sal dit op hul derde skenking ontvang.Hoërskoolleerders kan op 16-jarige ouderdom begin bloed skenk. Geen ouerlike toestemming is nodig nie. Leerders moet egter die Popia-vorm voltooi, en ouers moet hierdie wettige toestemmingsdokument vir verwerking van inligting onderteken.Die WKB wil die jeug graag deur deurlopende opvoedingspogings en veldtogte opvoed oor die belangrikheid van bloedskenking en hul noodsaaklike rol om lewens op daardie manier te help red.“Ons het ons Super 9-klub in 2023 bekendgestel. Hierdie veldtog moedig jeugskenkers aan om nege skenkings voor hul 19de verjaardag te doen, en deur dit te doen, probeer ons om ’n kultuur van lewenslange lewensredders te kweek,” het Carli gesê.Bloedskenking neem net 30 minute en jy kan elke 56 dae skenk. As jy tussen 16 en 75 is, 50 kg of meer weeg, goeie algemene gesondheid geniet en ’n veilige seksuele leefstyl lei, behoort jy te kan skenk. Bloedskenking veroorsaak geen liggaamlike skade nie aangesien slegs 475 ml bloed geneem word; dit word binne 24 uur vervang.

Carli het skenkers aangeraai om ’n aansienlike maaltyd binne drie tot vier uur te eet voordat hulle ’n kliniek besoek en om hul vloeistofinname voor, tydens en ná skenking te verhoog. Bloed word daagliks in hospitale aan pasiënte in nood oorgedra. Dit word nie net vir trauma gebruik nie, maar ook beplande operasies, tydens bevalling en vir pasiënte wat aan ’n verskeidenheid siektes ly, insluitend bloedafwykings soos hemofilie en sekelselanemie, kanker en outo-immuun-afwykings.

Vir meer inligting of om jou naaste bloedskenkkliniek te vind, besoek www.wcbs.org.za, laai die WKB-toepassing af, of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 060 549 7244.

You need to be Logged In to leave a comment.