Jimmy, Anna gee hul alles

Om ’n fees te beplan, verg uithouvermoë, lang nagte, hope geduld en senuwees van staal – vra maar die twee strydrosse van die Hermanus Times-Kalfiefees.


Om ’n fees te beplan, verg uithouvermoë, lang nagte, hope geduld en senuwees van staal – vra maar die twee strydrosse van die Hermanus Times-Kalfiefees.

Anna Spaarwater, wat van 2004 af by die fees betrokke is, het besluit om hierdie jaar haar feesskoene op te hang.

“Dit was ’n heerlike 20 jaar wat ek by die fees betrokke was en elke jaar se fees het sy eie hoogtepunte gehad, en een daarvan was Faan se trein. Ons het met twee opvoerings begin en met vier geëindig. Van die ander hoogtepunte is gewis Sandra Prinsloo. Sy bly ’n gunsteling vir menige, soos hierdie jaar met Spertyd, en natuurlik kan ons nie van Frank Opperman vergeet nie – sy komedies bly ’n hoogtepunt,” vertel sy.

“Wat musiek betref, sal Laurika Rauch, Theuns Jordaan en Drie van die bestes altyd vir my uitstaan. Maar my gunsteling-produksie is gewis Sandra Prinsloo in Die Naaimasjien en die Universiteit Stellenbosch-koor.”

Om deel van die Kalfiefees-komitee te wees, het ook sy uitdagings, en volgens Anna was een van die grootstes om verlede jaar se fees te kon aanbied. “Ons was die eerste kunstefees wat tydens Covid-19 ’n fees in ’n kleiner formaat aangebied het. Dit was baie moeilik. Selfs dié jaar se fees het ook sy uitdagings gehad aangesien ons met ons beplanning steeds regulasies rakende Covid-19-pandemie gehad het, maar gelukkig het dit intussen weggeval.”

Al gaan sy nie meer voltyds by die reëlings betrokke wees nie, is sy steeds daar om raad te gee. “Ek sal nog raad wil gee en voorstelle maak vir opvoerings, sonder die bekommernisse daarby! ’n Mens kan nie ondervinding koop nie.”

Die oudvoorsitter, Jimmy Hattingh, groet ook die komitee met ’n swaar hart. “Ek is van 2011 af by die Kalfiefees betrokke en was van 2016 tot 2021 die voorsitter,” vertel hy.

Volgens Jimmy het die fees talle hoogtepunte, maar drie staan vir hom uit: “Eerstens, om die Kalfiefees te kon herorganiseer tot ’n sake-entiteit en daardeur sy markwaarde aantreklik te maak vir alle borge waardeur ek ’n hegte band van vertroue geskep het; tweedens om jaarliks rekordbywonings te kry, behalwe in die tydperk van die pandemie. Selfs die jaar ná die pandemie, waar ons beperk was wat getalle betref, het die Kalfiefees ’n 97%-saalbesetting gehad. Derdens was die daarstelling van die Kalfiefees se gemeenskapsbetrokkenheidsprogram ook ’n hoogtepunt,” vertel hy.

Hy het ook baie uitdagings op sy pad in sy tyd as voorsitter gehad. “Van die uitdagings was om die besbekroonde teater- en musiekproduksies na Hermanus te bring en só ook toerisme te bevorder.”

Hy groet wel as voorsitter, maar gaan steeds by die Kalfiefees betrokke wees met reëlings rakende die finansiële borge. “Ek gaan ook steeds by die kunsuitstalling en boekbesprekings betrokke wees. Daarby is my verdere doelstelling om die Kalfiefees se gemeenskapsbetrokkenheid te vergroot.”

Van die gemeenskapsprojekte waarby die Kalfiefees betrokke is, is die Rugsak 100-projek. “Met ons borgskap van Checkers sal ons weer toesien dat minderbevoorregte kinders in alle graad een-klasse ’n rugsak op hul eerste skooldag kry. Van die ander gemeenskapsprojekte wat vir my uitstaan, is die bemagtiging en opheffing van vroue in die gemeenskap. Die Kalfiefees kry 10% van alle skilderye wat verkoop word gedurende die fees en hierdie jaar was daar ’n rekordverkope van meer as R56 000. Hiervan kry die Hermanus Homeless Shelter R5 607. Ons hou op 8 Maart volgende jaar, wat internasionale Vrouedag is, ’n pre-Kalfiefees-aanbieding, en die meeste van die opbrengste gaan aan die Hermanus Homeless Shelter.”

Hy sê boekbesprekings vervul ’n belangrike rol in gemeenskapsprojekte en vanjaar se opbrengste gaan vir die aankoop van Afrikaanse boeke deur die Hermanus-leeskring en ook aan die Kinderdag-projek in April vir die bevordering van Afrikaans onder kinders.

“Elke fees het sy hoogtepunte, maar my all time-produksie is altyd iets waarin Sandra Prinsloo speel. Hierdie jaar was dit Spertyd,” sluit hy af.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.