Joernalis het ’n welversnede pen

Hermanus Times se joernalis, Rick Marais, is onlangs as een van die top-20-finaliste van die Ingrid Jonker L’Art Poetique-kompetisie aangewys.


Hermanus Times se joernalis, Rick Marais, is onlangs as een van die top-20-finaliste van die Ingrid Jonker L’Art Poetique-kompetisie aangewys.

Marais vertel hy is een van Ingrid Jonker se grootste aanhangers. “Ek is mal oor haar gedigte en hoe sy mense met haar digkuns kan raak. Haar gedig getiteld “Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga is een wat my die meeste raak. Sy het haar digkuns gebruik om vir dié wat sukkel op te staan. Dis waarom ek besluit het om die geleent­heid aan te gryp en in te skryf.”

Hierdie jaar is die eerste keer dat Marais aan die kompetisie deelgeneem het. Marais het ’n hartroerende gedig, “Stuur haar vinnig”, ingedien onder sy skrywersnaam Daniel Marais. Die gedig vertel die storie van die agtjarige Tazne van Wyk van Elsiesrivier wat vroeër vanjaar wreed vermoor is.

Van Wyk se lyk is op 20 Februarie in ’n stormwaterpyp langs die N1 net buite Worcester gevind.

“Die gedig is aan Tazne van Wyk opgedra wat vinnig onskuldig deur haar ouers winkel toe gestuur is vir inkopies en toe skielik verdwyn het,” vertel Marais.

Volgens Zalman Davis, die sameroeper van die kompetisie, het 399 digters ingeskryf en hy hoop daar gaan volgende jaar meer inskrywings wees. Davis vertel die doel van die kompetisie is om opkomende skrywers die platform en geleentheid te gee om hul skryfwerk ten toon te stel.

Marais vertel toe hy sy naam op die top-20-lys sien, het hy sy asemhaling vir so ’n rukkie opgehou en toe het hy weer gelees net om seker te maak.

“Ek kon werklik nie glo ek is in die top-20 nie en dit boonop in ’n kompetisie wat genoem is na my gunstelingdigter.” Sy liefde om gedigte te skryf, kom al van ’n jong ouderdom af en dit het begin groei toe hy ’n digbun­del van T.T. Cloete vir R20 in ’n tweedehandse-winkel gekoop het. “Ek het die digbundel ver­slind en besluit om self te probeer. Ek het in my vrye tyd gedigte begin skryf en agtergekom dat gedigte wat my raak en inspireer oor mense gaan wat swaarkry of ’n misdaad wat teen iemand gepleeg is.

Klip in die bos het ’n opname van Marais se gedig gemaak met Eurika van Wyk wat dit voorgedra het. Dié video is al 166 000 keer op Facebook gekyk. Hierdie jaar word die 20 finaliste se gedigte in ’n digbundel, As jy lag, saamgevat. Dit is ook genoem na een van Ingrid Jonker se gedigte.

Marais vertel dit is ’n snaakse gevoel dat sy werk vir die eerste keer in ’n digbundel gaan verskyn. “Van my rekenaar na ’n digbundel, nou is my werk tasbaar.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.