Johan Fourie het op 9 Februarie 1987 geskiedenis gemaak toe hy die eerste atleet ter wêreld geword het wat twee droommyle (’n myl onder vier minute) binne ’n uur gehardloop het.
Die wedloop het op Coetzenburg in Stellenbosch plaasgevind. Fourie is steeds die enigste atleet ter wêreld wat dié prestasie behaal het. Op die vraag oor hoekom hy dit gedoen het, sê hy: “Ek wou iets doen wat niemand nog ooit kon regkry nie.”
Hy onthou dit was ’n koue aand en die eerste droommyl het hy in die reën gehardloop. “Die toeskouers en kommentator het baie tot die atmosfeer bygedra,” sê Fourie, wat vanjaar die atletiekbekende is wat in die jaarlikse Dagbreek-straatmyl vir sy bydrae tot atletiek vereer word. Dié byeenkoms vind op Woensdag 15 Oktober in Victoriastraat, Stellenbosch, plaas.
Fourie, wat op 2 Desember 1959 in Springs gebore is, het op 7 Mei 1979 sy eerste droommyl op Coetzenburg voltooi. Hy het op die betrokke aand vir Sydney Maree gehelp om Danie Malan se rekord in die Suid-Afrikaanse myl te verbeter. Sy laaste en 53ste droommyl – die meeste deur enige Suid-Afrikaner – was op 34 jaar op 15 April 1993.
Hy het deur die jare heen die nasionale mylrekord vier keer verbeter met ’n beste tyd van 3:50.82 op Coetzenburg in 1987. Dít was vir 27 jaar die nasionale rekord en is steeds die vinnigste tyd deur ’n Suid-Afrikaner op tuisbodem.
Fourie het in 1979 sy eerste nasionale titel gewen en daarna vir nege agtereenvolgende jaar – tot 1987 – die Suid-Afrikaanse 1 500 m- baantitel gewen. Hy het in 1979 Springbokkleure verwerf en ook elke jaar van 1980 tot 1987 die Groen-en-Goud gedra.
Sy beste tyd in die 1 500 m-wedloop is 3:33.87, wat hy by die 1987-nasionale kampioenskap in Stellenbosch opgestel het. Dit het ses jaar as die SA rekord gestaan en Fourie het vyf keer ’n SA rekord in die 1 500 m gehardloop. Hy het op 27 Desember 1982 die eerste straatmyl wat in SA aangebied is, in die destydse Port Elizabeth in 3:57.4 gewen. Fourie se vinnigste straatmyl was 3:47.4, toe hy op 28 April 1984 die Kerkstraat-myl in Pretoria gewen het.
Weens Suid-Afrikaanse sportisolasie het Fourie nooit die geleentheid gehad om internasionaal deel te neem nie. Hy en sy vrou, Marinda, is steeds by atletiek-afrigting betrokke en verskeie atlete van sy oefengroep, die Dog Squad, het groot hoogtes bereik.