Johan Geldenhuys (regs) saam met sy spanmaat Cameron Carolissen tydens die Wêreldkampioenskap in Duitsland.


Drie veerpyltjie-spelers van Gansbaai speel die wêreld aan die brand en een van hulle het ook onlangs aan die PDC-Wêreldbeker in Duitsland deelgeneem.

Johan Geldenhuys se reis na die Wêreldbeker was definitief iets om te onthou. Die lede van die Walkerbay-veerpyltjieklub het hul staal tydens ’n veerpyltjietoernooi wat in Kaapstad gehou is, gewys. Johan, Sonja van Rensburg en Martin van Staden van Gansbaai se sosiale veerpyltjieklub het besluit om aan die African Dart Group se toernooi deel te neem.

Tydens die eerste item, die ACT1, het hulle reeds hul teikens getref. Johan het gewys niks kan ervaring vervang nie en hy het al sy wedstryde gewen en sy plek in die top-32 met ’n gemiddelde van 87.94 verseker. Die groentjies, Sonja en Martin, het van die staanspoor af gewys hul vaardighede gaan hulle nog ver bring. Martin het net-net die top-32 gemis, maar die vertoning wat hy gelewer het, was “uit die boeke”.

Sonja het in die vroue-toernooi gewys sy kan haar “vrou” staan in die strawwe mededinging en het sesde in haar afdeling geëindig. Sy het een wedstryd met ’n gemiddelde van 42.29 gewen.

Die spelers het in die Suid-Afrikaanse ope, waar Sonja en Johan deelgeneem het, gemengde welslae behaal. Sonja is vroeg-vroeg uitgeskakel, maar Johan het uitsonderlik goed presteer. Nadat hy al sy wedstryde gewen en ook Devon Peterson in die halfeindstryd geklop het, het hy teen Simon Adams te staan gekom. Johan het gewys aanhouer wen en nadat Simon van die staanspoor af voorgeloop het, het Johan moedig teruggeveg en die eindstryd met ’n gemiddelde van 80.47 gewen, wat hom ’n plek in die Suid-Afrikaanse span verseker het.

Hy en sy spanmaat, Cameron Carolissen, het in Duitsland aan die PDC-Wêreldbeker deelgeneem. Hulle het ongelukkig teen Ierland vasgeval en was tweede in hul afdeling, maar die ondervinding wat hulle opgedoen het, sal hulle vir niks verruil nie.

“Ons het in ons eerste wedstryd vasgeval en wou op ’n hoogtepunt eindig. Dié ondervinding is iets wat ons altyd sal bybly. Die atmosfeer tydens so ’n Wêreldkampioenskap is baie anders en ons het baie kennis opgedoen wat ons teruggebring het Suid-Afrika toe,” het hulle gesê.

Vir Martin en Sonja was die ondervinding wat hulle opgedoen het, baie waardevol. “Ons het baie geleer van toewyding en vaardighede en glo dit gaan ons in die toekoms help,” het hulle gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.