Wyle John Williams toe hy nog slot vir die Springbokke gespeel het.


“As jy ’n lynstaanbal wou wen, gooi hom op John Williams.”

Só onthou die gevierde Noord-Transvaalse kaptein Thys Lourens die hemelbesemslot van die Ligbloues wat pas in die ouderdom van 78 oorlede is.

Johannes Gerhardus Williams het in 1971 saam met die legendariese Frik du Preez, ook ’n deurtrapte Noord-Transvaler, sy Springbok-buiging teen die besoekende Franse toerspan gemaak. Later daardie jaar is die drie Ligblou-spanmaats saam op die betogertoer deur Australië waar Hannes Marais en sy span al 13 wedstryde, waaronder drie toetse, gewen het. Williams was in al vyf toetse in 1971 Du Preez se slotmaat en het Johan Spies, wat saam met Du Preez die vorige jaar as slotkombinasie die All Blacks verslaan het, uit die span gehou.

Daarna het Williams saam met nog ’n ranker uit die Noord-Transvaalse slotfabriek, Piet du Plessis, in 1972 teen Engeland op Ellispark gespeel, maar die span het verloor nadat Suid-Afrika met talle strafskoppe wat hulle sou laat wen het, misluk het (selfs Jan Ellis het aangelê pale toe.)

Toe kom die gedugte 1974-Leeus onder Willie-John McBride hier toer. Williams, wat ses voet sewe in sy sokkies staan (’n katspoegie oor die twee meter) moet sy man staan teen slotte van wêreldformaat, soos McBride van Ierland en die Skot wyle Gordon Brown. Hoewel die Leeus die Noord-Transvaler die bynaam “Jolly Jumper” gegee het, was hy een van die min Springbokke vir wie hulle respek gehad het.

In die laaste toets op Ellispark saam met die vuurvreter Moaner van Heerden as slotmaat, laat eindig hulle die toets gelykop met 13 punte elk. Williams was só goed dat algemeen na hom verwys is as “moontlik die beste lynstaanspringer ter wêreld”.

Ná die Leeu-toer het die Bokke Frankryk aan die einde van 1974 op eie bodem kafgedraf met “Moaner” en Williams as slotte.

Die keurders het egter Van Heerden en Kevin de Klerk teen Richard Astre se besoekende Franse vir 1975 gekies.

Andy Leslie se All Blacks het in 1976 kom toer en Williams was ’n outomatiese keuse. Hy het egter sy neus in die tweede toets in Bloemfontein gebreek en is vir daardie toets en die res van die reeks deur die Transvaalse reus Kevin de Klerk vervang.

Williams se besering het sy rugbyloopbaan kortgeknip. Volgens verslae het sy neusbene in sy wangbeen ingesteek.

John Williams is in 1970 aangewys as een van Suid-Afrika se Vyf Belowendste Rugbyspelers van die Jaar.

Hy moes egter meeding met bulle soos Frik du Preez en Johan Spies vir ’n plek in die Bokspan en moes wag tot die volgende jaar voordat hy wel vir Suid-Afrika gekies is. Op die 1971-toer deur Australië was daar dreigemente dat die Bokke dalk sal honger ly as gevolg van stakings deur betogers. Een berig het gelui: “John Williams is die grootste man in die span en een man wat dalk kan swaarkry.”

Thys Lourens – sy volle name is Mathys Johannes – onthou veral die 1975-eindstryd teen Vrystaat soos gister. “Dit was op ’n sopnat Vrystaat-stadion toe dit kort voor die wedstryd katte en honde gereën het. Die veld was ’n absolute modderbad! Ons agsteman was Wynand Claassen, wat later Springbokkaptein op die berugte meelbomtoer in 1981 deur Nieu-Seeland was. Vrystaat het ’n baie goeie span gehad en die wedstryd is kort voordat die eindfluitjie geblaas het, nog gelykop nadat Pikkie du Toit onder die pale gedruk en De Wet Ras vervyf het. Toe druk Pierre Spies daardie langarm-drie van hom in die suidwestelike hoekie. Maar die man wat die beslissende lynstaanbal gewen het, was John Williams.”

Lourens takseer Williams as ’n uitsonderlike kaptein.

Die Jolly Jumper was volgens Lourens ’n uitmuntende spanspeler met goeie leierseienskappe. “Hy het ’n skerp humorsin gehad en kon lekker poetse bak. Later het hy ook naam gemaak as afrigter van formaat. Hy het onder meer Suid-Afrika afgerig.”

Thys Lourens het sy toetsdebuut teen Tom Kiernan se 1968-Leeus gemaak en in die laaste drie toetse gespeel en ’n drie in die derde toets gedruk. Die einde van daardie jaar is die Springbokke onder Dawie de Villiers Frankryk toe. Hy het egter net in een wedstryd gespeel nadat hy ’n besering opgedoen het. Toe, in 1969-’70 gaan toer Dawie de Villiers se Springbokke deur die Verenigde Koninkryk. “Hulle het my gepos vir daardie toer.”

Betogers het amok gemaak en die spelers kon nie behoorlik oefen nie. “Die noodlot het besluit dat ek daardie toer moes misloop. Hulle het Piet van Deventer, flank van Griekwas, gekies en ek gun hom dit.” Toe die Bok-toergroep vir 1971 aangewys is, was sy naam egter daar. Hy het sy plek welverdiend teruggewen.

Die besnorde Noord-Transvaalse kaptein het uiteindelik in 168 wedstryde vir die gevreesde Ligbloues gespeel. Net Burger Geldenhuys (184), Naas Botha (179) en Louis Moolman (171) het in meer wedstryde as hierdie 1943-model van Vryheid in KZN gespeel. Thys Lourens het die span van Pretoria nie minder nie as 84 keer aangevoer en ’n stewige 63 drieë gedruk.

Die beste flank saam met wie hy gespeel het, was die “Rooi Tier van Suidwes”, Jan Ellis. “Ellis kon loop soos die wind en het oor ’n verbysterende systap beskik. Hy kon die bal soos ’n agterspeler hanteer. Hy was rateltaai en met sy reusehande kon hy ’n bal behoorlik toevat. Boonop was hy die ideale skakel tussen voor- en agterspelers.”

Ellis, terloops, was daarvoor verantwoordelik dat die Walliese towenaar Barry John, ’n losskakel, slegs in die eerste toets van die 1968-Leeus gespeel het – Ellis het sy sleutelbeen gebreek.– Pierre Massyn is die skrywer van Springbok Rugby-Vasvra

You need to be Logged In to leave a comment.