Die Oase-dienssentrum se onlangse middagtee was omtrent ’n jolige affêre waar die 100 gaste wat dit bygewoon het, hulle gate uit geniet het.
Die tema van dié tee, wat ’n geldinsamelingsprojek was, was die jare sestig en al die gaste het volgens dié tydperk aangetrek. Die lekker 60’s-musiek het die voete laat jeuk en – tot groot vermaak van almal – het van die seniors getwist en gejive vir ’n vale.
Die vier oudste lede – Susanna Louis (85), Lydia Gilliomee (93), Rebecca Kies (89) en Mona Carelse (82) – was die eregaste. Tannie Mona, wat ook daardie dag verjaar het, is altyd ’n bok vir sports en sy het almal in haar rooi rok en rooi seilskoene met haar wilde danspassies op maat van die liedjie “Tannie met die rooi rokkie”, wat spesiaal vir haar gespeel is, vermaak.
Verskeie lede het skreeusnaakse opvoerings aangebied en die voorsitter, Edna Vashu, het die gehoor laat skater met haar stories en grappe.
Die eetgoed was smullekker en baie gaste het weggestap met wonderlike pryse wat hulle in ’n lootjie-trekkery gewen het. Elke gas het ook ’n leesbril ontvang met komplimente van Clicks Caledon.
Die middagtee is geborg deur Caledon Nedbank se Care Bears, wat ook die bediening van die tee behartig het.
Die opbrengs van die geldinsameling sal by die bedrag wat onlangs deur Nedbank aan die Oase-dienssentrum geskenk is, by hul woekerfonds gevoeg word.
Vashu het haar dank uitgespreek aan al die borge en almal wat bygedra het om te verseker dat die middagtee so ’n groot sukses was.