Vir Shaan Smit van LR Schmidt Primêre Skool in Genadendal was dit ’n groot eer toe sy held en Olimpiese atleet, Adrian Swarts, vir hom spykerskoene geskenk het.
Shaan, wat in die 100 m, verspring en hoogspring uitblink, se groot droom was om die atletiekveld met spykerskoene aan te durf en om die skenking van sy Olimpiese held te ontvang, was die kersie op die koek.
Hy het onlangs by ’n atletiekbyeenkoms in Caledon in al drie die items eerste plekke behaal en was baie verras toe hy die skoene by Adriaan gekry het. Hy gaan dadelik die skoene gebruik om hom vir die Suid-Boland-atletiekbyeenkoms voor te berei.
Adriaan, wat ook onlangs sy Olimpiese frokkie aan die Hoërskool Overberg geskenk het, is baie trots op sy grootworddorp, Caledon.
Nie net maak hy ’n verskil in die jongmense van die Overberg se lewe met sy prestasies nie, maar dié naelloop-atleet, wat vir die 4x400m-aflos se Olimpiese span gekies is, word ook aan sy deursettingsvermoë geken.
Adriaan het voor die Olimpiese Spele verlede jaar in ’n Facebook-plasing geskryf: “I don’t care if it takes six months or six years – I will succeed. I will achieve my dream.”
En al moes dié 22-jarige wêreldklasatleet hom weens siekte aan die aflos onttrek, glo hy dat hy vir die volgende Olimpiese Spele in Los Angeles gereed gaan wees.
Maar intussen en so deur sy eie oefening help hy om jong talent op te bou en te motiveer.
Nadat die nuus oor Shaan se prestasies op Facebook gedeel is, het gelukwensings van oor die land heen ingestroom.
“Geluk Shaan jy en die ander leerders hou jul skool se naam hoog. Sterkte aan julle almal,” het een Facebook-gebruikers geskryf.
Johanna Swart het ook op Facebook geskryf en vir Adriaan bedank dat hy terugploeg in die gemeenskap.
Teen druktyd kon daar nog nie vasgestel word oor hoe die atlete gevaar het tydens die Suid-Boland-atletiekbyeenkoms nie.