Jong atlete van Caledon op pad na Boland-kampioenskap

Caledon se laerskole kan met reg trots wees op sy junior atlete, want nie minder nie as 35 jong atlete is in die Suid-Boland-span opgeneem om aan die Boland-atletiekkampioenskap deel te neem.


Caledon se laerskole kan met reg trots wees op sy junior atlete, want nie minder nie as 35 jong atlete is in die Suid-Boland-span opgeneem om aan die Boland-atletiekkampioenskap deel te neem.

Dié span bestaan uit 24 atlete van Klein Ovies (die Laerskool Overberg) en 11 atlete van Swartberg Primêr. Die 35 atlete sal aan naellope, hoog- en verspring, hekkies, langafstande asook verskeie ander veldnommers deelneem.

Marius Koekemoer, Klein Ovies se skoolhoof, sê: “Hierdie groep atlete is meer as die gemiddeld wat ons gewoonlik verteenwoordig. Die onderwysers het hard gewerk om hulle voor te berei en ek is bly hulle kan die vrugte van hul arbeid pluk. Ek is baie trots op die atlete.”

Van die 11 atlete van Swartberg Primêr wat in die span opgeneem is, is ses hekkiesatlete. Dit op sigself is besonders omdat hekkies nie ’n item is wat by dié skool se skoleatletiek aangebied word nie.

Die Swartberg Primer-atlete wat aan die kampioenskap gaan deelneem. Agter saam met hulle staan Fagan Ess met Deidre Michaels links voor en die waarnemende adjunkhoof Theresa Plaatjies regs voor.

Fagan Ess, wat die naellope afrig en met hekkies help, sê: “ ’n Week voor die Caledon-sonebyeenkoms het ek Coach Didi (Deidre Michaels) gevra om ons met hekkies-afrigting te kom help. Dit is regtig besonders dat ses atlete gekwalifiseer het om by die Boland-kampioenskap daaraan deel te neem.”

Die ander items waarvoor atlete gekwalifiseer het, is ver- en hoogspring en naellope.

Coach D, soos Deidre Michaels alombekend is, sê: “Ek is baie opgewonde oor ons goeie uitslae. Dit was baie harde werk om die atlete van kleuresport by die skool, na interskole en uiteindelik die Suid-Boland-proewe gereed te kry. Ons oefen baie intensief om die hekkiesatlete se tegniek te verbeter voordat hulle aan die Boland-kampioenskap deelneem.”

Die Boland-kampioenskap vind Saterdag 24 Februarie in die Paarl plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.