Jayden van der Merwe is ‘n jong atleet van Hermanus wat nog hoë hoogtes gaan bereik.

‘n Blink toekoms wag op die 17-jarige Jayden van der Merwe van Hermanus. Dié 400m- en 800m-atleet het onlangs aan die Suid-Afrikaanse Christelike Skole-sportvereniging (Sacssa) se nasionale baan- en veldkampioenskap deelgeneem.

Die byeenkoms is in Pietermaritzburg gehou. Al is hy net 17 jaar oud, het hy teen mans meegeding wat in hul 20’s is. Hy was vierde in die 400m sowel as in die 800m.

Jayden is nog altyd lief vir sport en by verlede jaar se streekkompetisie, waar hy ‘n eerste plek in die 400m behaal het, het hy besef atletiek is een van sy gunstelingsportsoorte. Hy droom ook groot en glo sy harde werk sal eendag vrugte afwerp. “Ek sal graag eendag aan die Olimpiese Spele wil deelneem en daarna in my afrigter, Susan van der Walt, se spore wil volg en ‘n afrigter word sodat ek mense kan help om hul atletiekdrome na te streef,” vertel hy.

Net soos menige ander 400m-atleet is Jayden ‘n groot aanhanger van Wayde van Niekerk. “Ek onthou hoe ons almal hom tydens die 2016- Olimpiese Spele dopgehou het. Hy het ‘n wêreldrekord in die 400m opgestel en dit terwyl hy in baan agt gehardloop het. Dit is die moeilikste baan omdat jy nie regtig kan bepaal of jy voor of agter die ander atlete hardloop nie.”

Al is dit nie altyd maanskyn en rose op die sportveld nie en al moet atlete ook beserings in die gesig staar, glo Jayden daaraan dat jy nooit moet moed opgee nie. “Moenie jou drome prysgee nie; dit maak nie saak hoe moeilik die pad is om jou drome te bereik nie. God is in beheer en Hy sal jou nooit ‘n struikelblok gee waaroor jy nie kan kom nie.”

Jayden, wat ses dae per week oefen, speel in sy aftyd graag vlugbal op die strand sowel as krieket en rugby en bring graag tyd saam met sy familie en vriende deur. Hy is dankbaar vir alles wat sy ouers in sy lewe gedoen het. “Ek kyk veral op na my ouers, Rian en Janine – hulle het my nie net onvoorwaardelik lief nie, maar is ook my getrouste ondersteuners en is altyd langs die baan om my aan te moedig.”

Verder speel sy afrigter ook ‘n groot rol in sy lewe. “Coach Sanna inspireer my altyd om my doelwitte te bereik en uitdagings te oorkom. Sy leer my om positief te bly, al is die mededinging  erg.”

Volgens Jayden sou hy nie al die dinge kon bereik as dit nie vir almal was wat ‘n rol in sy lewe gespeel het nie. “Eerstens wil ek al die eer aan God gee. Baie dankie aan my ouers dat hulle nog altyd geglo het ek sal uitkom waar ek nou is; Coach Sanna vir al die harde werk wat sy doen om my suksesvol te maak en dat sy hierdie pad saam met my stap; en Overberg Homeschool Athletics, waar ek in 2023 met atletiek begin het. Dankie ook aan my vriende en aan Lynn-Mari wat my voor elke resies bel en sterkte toewens.”

Verder bedank hy ook Curro Hermanus, wat hom toelaat om sy liefde vir sport uit te leef. “Curro Hermanus gee my die geleentheid om atletiek, rugby en krieket saam met hulle te doen. Dit beteken baie vir my.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article