Een van die aksiefoto’s wat Paul Fourie van Ewan Roos geneem het tydens die Stormers se wedstryd teen Bennetton. Foto: Paul Fourie

Die spreekwoord “aardjie na sy vaartjie” geld gewis vir die negejarige Paul Fourie van Hermanus, want soos sy pa, Carl, die amptelike fotograaf van die Stormers, stel hy net so belang in fotografie.

‘n Groot eer het dié graadvier-leerder aan die Laerskool Hermanus onlangs te beurt geval toe hy vir URC Kids gekies is.

URC Kids is ‘n inisiatief wat van stapel gestuur is om die insluiting van alle kinders in die URC-kampioenskap aan te moedig deur kinders die geleentheid te bied om in die wedstryde betrokke te wees – hetsy met die muntstukgooi, onderhoude of selfs fotografie.

Paul is net soos sy pa ook ‘n getroue Stormers-ondersteuner – hoe dan anders, want dié aspirantfotograaf is op 31 Julie 2016 in Stellenbosch gebore. Al lewe hy vir rugby, wil hy eendag ‘n sportfotograaf word. “Dit is vir my lekker om aksiefoto’s te neem – jy kry nie net kans om by die aksie te wees nie, maar om jou foto’s ná die wedstryd te sien, is baie lekker,” sê hy. Hy hou ook daarvan om te weet hoe die kamera werk en hou baie daarvan om met verskillende funksies te eksperimenteer.

Al speel Paul self nie rugby nie, sal hy nie maklik ‘n wedstryd van die Stormers of die Springbokke misloop nie. “Ons spanne vaar baie goed en ons het baie goeie spe-lers in die land, maar my gunsteling-rugbyspelers is gewis Handré Pollard en Pieter-Steph du Toit.”

Paul, wat baie lief is vir die buitelewe, hou ook van jag, visvang, fietsry, branderry en enige sport. “As daar ‘n avontuur is, wil ek graag deel daarvan wees. Van my lekkerste tye is as ek saam met my gesin op avonture gaan. Ek het ‘n ouer broer wat nou 11 jaar oud is, en ons kleinste boetie is agt jaar. Ek, Rian en Stephanus kan lekker kattekwaad aanvang, maar ons kan net so lekker saam speel ook.”

Van Paul gaan gewis nog baie gehoor word, want dié mannetjie se passie vir fotografie ken geen einde nie. Hermanus Times het sy foto’s aan ‘n bekende fotograaf gewys en hy het die volgende oor Paul se foto’s te sê gehad: “Merkwaardig vir so ‘n jong kind. Hy het nie net ‘n oog vir ‘n goeie foto nie, maar die komposisie van die foto’s is op die oog af natuurlik vir hom. Dié mannetjie het talent en as dit verder ontgin gaan word, gaan hy nog ver in die lewe kom.”

Een van die aksiefoto’s wat Paul Fourie van Ewan Roos geneem het tydens die Stormers se wedstryd teen Bennetton. Foto: Paul Fourie

You need to be Logged In to leave a comment.