Pieter van Zyl (hoofbestuurder van Shoprite Freshmark se verskaffingsafdeling), dr. Ivan Meyer (Wes-Kaapse minister van landbou), Nigel Klaasen (die wenner van die Prestige Agri-werker vir 2022) en dr. Mogale Sebopetsa (hoof van Wes-Kaap-landbou) na afloop van die prysuitdeling.


Stil-stil het ’n junior produksiebestuurder van ’n plaas in die Elgin-vallei die Overberg trots gemaak.

Nigel Klaasen van Fruitways is Saterdag as die wenner van die gesogte Wes-Kaap-Agri-pryse aangewys.

Altesaam 994 landbouwerkers van 15 streke het in 11 afdelings deelgeneem.

Dié prestige-geleentheid is by die GrandWest-casino gehou en Klaasen het nie net ’n geldprys gewen nie, maar ook ’n studiegeleentheid om oorsee te gaan toer.

“Ek is so dankbaar om vir Fruitways te werk, want dié maatskappy het my die geleentheid gegee om te groei in dit wat ek geniet. Die positiwiteit van my kollegas en ander benoemdes vir die eerbewys het my gemotiveer om net nog beter te doen. Ek wil net weer klem lê op die belangrike rol wat landbouwerkers in voedselsekerheid speel.

“Deur ons handearbeid maak ons as landbouwerkers seker dat genoeg voedsel vir almal in Suid-Afrika beskikbaar is.

“Dankie aan die departement van landbou vir die geleentheid waar ons landbouwerkers vir ons harde werk vereer kan word,” het Klaasen gesê.

Volgens dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, gee dié kompetisie erkenning vir die landbouwerkers se harde werk, uithouvermoë en toewyding.

“Die Agri-pryse beklemtoon nie net die harde werk in die landbousektor nie, maar motiveer en inspireer ook landbouwerkers om groter hoogtes te bereik deur nuwe vaardighede aan te leer.

“Landbouwerkers vervul ’n belangrike rol in die Wes-Kaap se ekonomie en hul arbeid, kennis en harde werk moet beloon word,” het Meyer gesê.

Sonder Shoprite Freshmark kan hierdie eerbewys nie plaasvind nie en dié maatskappy is van 2012 af die hoofborg van die geleentheid.

“Landbou vervul ’n belangrik rol in voedselsekerheid en die Wes-Kaap is ’n belangrike verskaffer aan Shoprite. Altesaam 35% van al ons aankope kom uit die Wes-Kaap en word na al die Shoprite-winkels oor Suid-Afrika heen versprei. Die verskaffing en verspreiding van voedsel sou nie kon plaasvind as dit nie vir die 180 landbouprodusente en 50 000 landbouwerkers was nie. Die passie waarmee landbouwerkers hul pligte uitvoer, is merkwaardig en dit is vir Shoprite Freshmark ’n eer om met dié kompetisie verbind te word,” het Pieter van Zyl, hoofbestuurder van Shoprite Fresmark se verskaffingsafdeling, gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.