Jong rugbyspelers kry hupstoot

Deelname aan sport is ’n belangrike deel van kinders se ontwikkeling aangesien dit hulle onder meer spanwerk, dissipline en deursettingsvermoë leer en hulle konstruktief (en sodoende weg van kattekwaad) hou.


Deelname aan sport is ’n belangrike deel van kinders se ontwikkeling aangesien dit hulle onder meer spanwerk, dissipline en deursettingsvermoë leer en hulle konstruktief (en sodoende weg van kattekwaad) hou.

Daarom was dit vir talle skole in die Overberg ’n riem onder die hart toe verteenwoordigers van Boland-rugbyunie (BRU) hulle onlangs besoek het om as deel van die Tekkie Town-ontwikkelingsprogram broodnodige rugbytoerusting te oorhandig.

Lucian Cupido, ’n BRU-verteenwoordiger, sê altesaam 30 skole oor die Wes-Kaap heen – van so ver as Doringbaai in die Noordwes-streek tot Abbotsdale en Ceres – het by die Tekkie Town-projek baat gevind.

Dit is die tweede jaar dat BRU en Tekkie Town broodnodige rugbytoerusting aan skole skenk as deel van hul mikpunt om rugbyontwikkeling te bevorder.

Volgens Cupido het Tekkie Town ’n leemte vir rugbyontwikkeling onder seuns- en meisiesrugbyspanne op laerskoolvlak geïdentifiseer en is dit ook ’n manier vir die onderneming om in die gemeenskap terug te ploeg.

“Die twee topspanne van elke streek wat aan die Grootuitdaagliga deelgeneem het, kon elk skole van hul keuse benoem. Safcol van Grabouw, wat die topspan in die Overberg was, kon drie skole benoem en Caledon, wat tweede in die Overberg geëindig het, twee skole,” het Cupido verduidelik.

Safcol het Arrieskraal Primêre Skool, De Rust Futura Akademie en St Michael’s Primêr as begunstigdes gekies terwyl Caledon-rugbyklub vir Swartberg Primêr en The Glebe Primêr in Myddleton gekies het.

Elke skool het 10 rugbyballe sowel as ’n sak om dit in te dra, twee duiksakke en ’n houer met 10 waterbottels ontvang.

“Die begunstigdes van die projek was baie dankbaar vir die skenking aangesien sommige skole, soos The Glebe, wat ’n baie klein skooltjie is, nie eens die nodige rugbytoerusting het nie,” aldus Cupido.

Bestuurslede en spelers van die onderskeie rugbyklubs was ook deel van die uitreikaksie. Hulle was slaggereed om van hul raad met die aspirantrugbyspelers te deel. Die kinders het ook pret gehad toe hulle onder meer hul duikslag met die spelers kon oefen.

Die afgevaardigdes het ook al die leerders van die onderskeie skole toegespreek en aangemoedig om by sport betrokke te raak.

Patricia Vorster, ’n BRU-bestuurslid, het die leerders meer oor vrouerugby, wat die afgelope paar jare aansienlik gegroei het, vertel.

Volgens Cupido kan skole uitsien na nog soortgelyke inisiatiewe wat beplan word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.