Die stigterslid Miempie Wessels sny die koek vir die 70ste bestaansjaar van die Jongensklip-VLV. Langs haar is die Overberg-sirkel-president Elbé Fourie en Corrie Fourie. Foto: Mitzi Buys

Wanneer die vroue van die Vrouelandbouvereniging (VLV) ‘n teepartytjie reël, doen hulle dit in styl – en as 130 gaste dié partytjie bywoon, word behoorlik gekuier. Dit was juis die geval toe die Jongensklip-tak sy 70ste bestaansjaar in die Rietpoel-saal gevier het.

Gaste is met ‘n glas vonkelwyn bederf voordat hulle by keurig gedekte tafels met die allerheerlikste eetgoed plaasgeneem het. Wat werklik besonders was, was die feit dat Tannie Miempie Wessels, die enigste oorlewende stigterslid van die Jongensklip-tak, die teepartytjie bygewoon het. Tannie Miempie, wat op 6 Junie 93 jaar oud word, het tydens die geleentheid haar 70-jaar-dienskenteken ontvang – wat ‘n uitsonderlike prestasie. Onder die gaste teenwoordig was ook dogters van stigterslede. ‘n Erelidmaatskap-sertifikaat is aan Corrie Fourie, wat jare lank die voorsitter van die Jongensklip-tak was, oorhandig.

Verskeie lede van ander takke soos Caledon, Bredasdorp, Kleinmond, Hermanus en Gansbaai het ook die verrigtinge bygewoon. Die bekende Lizel-Mari van Straaten van Lizel-Mari Couture het ‘n baie interessante en insiggewende praatjie oor haar werk gelewer. Tinneke Lutzeyer van Komtessa Boutique in Gansbaai het ‘n modeparade met ‘n verskil aangebied. Modelle het tussen die tafels beweeg en gaste het nie net “ge-oe” en “ge-aa” nie, maar kon die klere van naderby beskou en selfs aan die tekstuur voel.

Verskeie stalletjies is opgerig, soos Stonehouse Cheese en Buck and Bean Coffee, waar gaste inligting kon kry en inkopies doen. Die gaste is in gelukstrekkings met heerlike pryse bederf.

Die Overberg-sirkel se president en lid van die Jongensklip-tak, Elbé Fourie, sê die opkoms het alle verwagtinge oortref. “Vir my was dit ‘n baie besonderse geleentheid – veral omdat Tannie Miempie, ‘n stigterslid van die tak, saam met ons kon deel wees van hierdie viering en ook dat van die stigterslede se kinders teenwoordig was. Dit is ‘n mylpaal wat nie elke dag bereik word nie.

“Vir ‘n plaastak om deur alles te bly bestaan, is baie besonders – veral dat die vroue destyds die geleentheid gesien het om iets te begin om vroue te bemagtig en om vaardighede aan te leer. Dit is steeds die doelwit van die VLV,” sê Elbé.

Elbé noem ook dat heelwat jonger vroue na die geselligheid aan haar genoem het hulle wil graag by die VLV aansluit en dit het haar opgewonde gemaak. “Ons bak en brou en brei en hekel nie net nie en lede hoef nie noodwendig aan die kompetisies deel te neem nie. Ons het altyd interessante temas wat op vergaderings bespreek word of interessante uitstappies wat verrykend is.”

Lede van die Jongensklip VLV-tak saam met hul dogters van stigterslede.

You need to be Logged In to leave a comment.