Jordin Gabriëls (12) van Rûens Kollege in Bredasdorp het gewys waarom hy die Hermanus Times se Sportster van Mei moet wees.
Jordin is ’n vurige 1 200 m-atleet en het reeds aan die begin van die jaar goeie potensiaal by sy skool se plaaslike kleure-atletiekbyeenkoms gewys. Hy het by hierdie byeenkoms sy eerste rekord van 03:49 verbeter – dit was slegs die begin van sy rekordlys. Hy is toe gekies om aan die Suidpunt-kampioenskap in Bredasdorp deel te neem en het weer sy hart uitgehardloop en nog ’n goue medalje verower, die keer weer met ’n rekordtyd van 03:48.
Daarna is hy na die Suid-Boland-kampioenskap in Hermanus waar hy stof in sy opponente se oë geskop het. Weer eens kon hy spog met ’n goue medalje in ’n rekordtyd van 03:46.
Jordin was vasberade om by die Boland-kampioenskap in die Paarl sy alles te gee. Dit was by hierdie byeenkoms wat Jordin omtrent die koppe laat draai het en nie net weer met ’n goue medalje weggestap het nie, maar nóg ’n rekord verbeter het in ’n tyd van 03:38 – sy beste tyd sedert die begin van die atletiekseisoen.
By die Wes-Kaap-kampioenskap was daar geen keer aan Jordin nie. Hy het weer eens met die goud weggestap. Daarby het hy die Wes-Kaapse provinsiale rekord verbeter na 03:35, en ’n plek in die Suid-Afrikaanse kampioenskap losgehardloop.
Reeds met vyf goue medaljes en vyf rekords op sy kerfstok het Jordin vir die eerste keer aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem. Met slegs een dag om aan die verskil in klimaatstoestande gewoond te raak, het Jordin sy eerste uitdun gewen. Die Overbergers het asem opgehou toe Jordin daardie Saterdag in sy Wes-Kaap-kleure vir die eindronde van die 1 200 m vir o.12-seuns aangetree het. Jordin het uiteindelik ná ’n naelbytwedloop, wat hy in ’n persoonlike beste tyd van 03:34 kafgedraf het, in die tweede plek klaargemaak.
Dit was nie net die Rûens-gemeenskap wat bankvas agter hom gestaan het nie, die hele Overberg-distrik het presies geweet wie is Jordin “Blits” Gabriëls, soos hy nou bekend staan. Hy het selfs sy eie medalje-parade deur Napier, sy tuisdorp, gehad.
“Ons is almal ongelooflik trots op Jordin. Nie net oor die ongelooflike atletiekseisoen wat hy gehad het nie, maar veral op sy uithouvermoë, vasberadenheid, wilskrag en nederigheid. Vir ’n atleet wat in 2019, toe hy nege jaar oud was, laas ’n byeenkoms bygewoon het, het hy almal se verwagtinge oortref,” het een van sy onderwysers gesê.. Benoemings met ’n kort motivering waarom iemand vir Hermanus Times se Sportster van die jaar-kompetisie benoem moet word, plus ’n foto, kan aan Mariëtte Strydom by editor@hermanustimes.co.za gestuur word. Of laai benoemings af by ons kantoor by Hoofstraat 34 (by die Birkenhead-gebou langs die NG kerk).