Willnesia Fielies (regs) van die Overberg-judo-akademie in Riviersonderend het by die SA nasionale judo-kampioenskap derde geëindig.


Sportmanne en -vroue van Riviersonderend het verlede week hul dorp se naam by die SA nasionale judokampioenskap in Gqeberha hoog gehou.

Wilfred Potberg, Willnesia Fielies, Jason Snyman en Hugh-gan Mintoor van die Overberg-judo-akademie (OJA) was deel van die span wat teen ander judoka van oor die land heen meegeding het.

Potberg het eerste plek op die podium ingeneem en Fielies het ’n bronsmedalje gewen.

“Hul ouers en die gemeenskap kan geweldig trots op hulle wees,” het Heinrich Sauls gesê. “Spesiale dank aan hul afrigter sensei Celton Hendricks onder wie se leiding hulle reeds teen verskillende judokas sukses behaal het. Hy is briljant en lei ons jeug na hoër hoogtes.”

Potberg, wat verlede jaar ook goud by die nasionale kampioenskap gewen het, sal Suid-Afrika vanaf 3-6 Augustus by die Statebond-judokampioenskap in Gqeberha verteenwoordig.

“Ons het die gemeenskap se hulp nodig om Wilfred se onkostes wat R10 000 beloop, in te samel. Kom ons steek ons hande in ons sakke om Wilfred, wat weer eens sy land in dié sportsoort verteenwoordig, te ondersteun,” het Sauls gesê.

Enigeen wat donasies wil maak of by geldinsamelings betrokke wil raak, kan Sauls via WhatsApp by 066 370 5131 of sensei Celton Hendricks by 071 872 6836 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article