Die gort is behoorlik gaar in Kaap Agulhas nadat die burgemeester van die Kaap Agulhas-munisipaliteit (KAM), Paul Swart, op ’n raadsvergadering op 31 Mei as burgemeester uitgestem is.
Volgens die KAM se munisipale bestuurder, Eben Phillips, het die besluit gevolg ná ’n mosie van wantroue teen Swart.
“Op die raadsvergadering, waar 10 raadslede teenwoordig was, het ses ten gunste van die mosie gestem en vier teen die mosie,” het Phillips in ’n persverklaring gesê.
Volgens Phillips is die mosie gegrond op bevindings deur die tugkomitee wat Swart skuldig bevind het aan wangedrag op twee aanklagte: Versuim om belange te openbaar wat in stryd is ingevolge Artikel 6 van die Gedragskode vir Raadslede (Bylae 7, Wysigingswet op Munisipale Strukture, Wet 3 van 2021) en versuim om ongemagtigde uitgawes te openbaar wat strydig is ingevolge Artikel 2 van die Gedragskode vir Raadslede (Bylae 7, Wysigingswet op Munisipale Strukture, Wet 3 van 2021).
“Swart bly aan as ’n raadslid van die KAM aangesien die raad slegs die mag het om te besluit oor die verkiesing en verwydering van ’n burgemeester. Dit is belangrik om daarop te let dat slegs die lid van die uitvoerende raad vir plaaslike regering die mag het om ’n raadslid te verwyder,” het Phillips gesê.
Volgens hom sal die onderburgemeester van die KAM, Raymond Ross, as uitvoerende burgemeester waarneem totdat ’n nuwe burgemeester op ’n spesiale raadsvergadering, wat vir Vrydag 7 Junie geskeduleer is, verkies word.
Facebook, ‘geheime stemming’
Ná die besluit het Swart op Facebook bevestig dat hy deur die nuwe koalisie wat uit die Diensleweringparty, die VF+ en die ANC bestaan, uitgestem is.
“Ek is vanoggend uitgestem as uitvoerende burgemeester van Kaap Agulhas deur die nuwe koalisie binne die KAM,” het hy gedeel.
Hy het ook verder op Facebook geskryf:
“Vanoggend se uitslag op ons raadsvergadering was ses stemme teen my (almal van die opposisiepartye) en vier [vir my] van die DA.
Verlede week het die speaker nie eens geweet wat om te doen toe ek gevra het om vir my dokumente te wys wat my verbied om aan die stemming deel te neem nie. Vanoggend het die speaker my verbied om in die raadsaal te wees en aan die stemproses deel te neem.”
Swart het verder gedeel dat ’n geheime stemming afgedwing is sonder dat die proses afgehandel is.
het hy in sy Facebook-inskrywing gesê.
Selfs die burgemeester van die Stellenbosch-munisipaliteit, advokaat Gesie van Deventer, het haar kommer oor die situasie uitgespreek: “As ’n regsgeleerde is ek net nuuskierig . . . Is die skuldigbevinding aan die minister van plaaslike regering gestuur soos vereis ingevolge die Stelselswet, ’n nasionale wet wat op alle munisipaliteite van toepassing is?
“Indien nie, kan die rolspelers vir alle kostes aanspreeklik gehou word totdat die minister die saak ondersoek en die bevindings bevestig het.”