BREDASDORP – ’n Oudpolisieman en sy vrou, wat daarvan aangekla is dat hulle en twee ander Eskom-kabels ter waarde van meer as R300 000 gesteel het, is op borgtog vrygelaat.
Zinzi Hani, ’n woordvoerder van die Valke in die Wes-Kaap, het bevestig Percival Olckers en sy vrou, Kay-Ann, is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat. Hul medebeskuldigdes, Inge Fortuin en Carlo Cloete, is op borgtog van R2 000 vrygelaat.
Die vier het hul borgtogaansoeke Woensdag 10 Augustus in die Bredasdorp-landdroshof gebring.
Hulle was in aanhouding sedert hulle op 27 Julie deur die Valke se eenheid vir georganiseerde misdaad op aanklagte van diefstal en bedrog in hegtenis geneem is.
Volgens Hani het die inhegtenisnemings gevolg nadat owerhede in November 2021, na aanleiding van inligting wat ontvang is, op koperkabels ter waarde van oor die R300 000 beslag gelê het. Die koperkabels, het Hani verduidelik, was in die besit van Kay-Ann Olckers (42), ’n voormalige Eskom-werknemer, wat ’n senior opsiener in beheer van die Bredasdorp-kliëntenetwerksentrum was.
Die kabels is na bewering by die netwerk-sentrum in Bredasdorp gesteel.
“Verdere ondersoekwerk het onthul die verdagtes het die koperkabels in April 2021 aan ’n plaaslike skrootwerf begin verkoop,” het Hani verduidelik.
“Haar man, ’n voormalige polisiebeampte, is na bewering ’n medepligtige.”
Die saak is vir nadere ondersoek tot 29 September uitgestel.